|

AfriForum-buurtwagte hou ’n wakende oog

Die AfriForum-buurtwagte in Stilfontein en Orkney het op 19 Februarie ’n suksesvolle sigbaarheidspatrollie in Stilfontein gehou.

Altesaam 20 voertuie en 70 mense was by die patrollie betrokke wat vanaf 19:00 tot 21:00 plaasgevind het.

Die patrollie was ’n reusesukses en ’n goeie leerervaring vir die patrolleerders.

Benewens die gewone patrollies wat hierdie twee buurtwagte van die Stilfontein-tak getrou doen, maak hulle ook tyd vir addisionele voorsorgmaatreёls om die gemeenskap te beveilig.

Op 12 Februarie het die AfriForum-buurtwag in Stilfontein patrollies in die begraafplaas gehou sodat die gemeenskap hul geliefdes se grafte kon besoek met die gerustheid dat dit veilig is.

“Die samewerking tussen die Orkney- en Stilfontein-buurtwag is ’n groot inspuiting vir beide gemeenskappe en daar is reeds ooreengekom om volgende maand ’n soortgelyke projek in Orkney te hou. Die entoesiasme van albei buurtwagte se lede kan nie in woorde omskryf word nie, maar ek is vol vertroue dat dit die begin is van groot dinge vir beide buurtwagte,” sê Marius Trollip, buurtwagleier in Stilfontein.

“Dit is verblydend dat die twee buurtwagte in nabygeleё dorpe mekaar op so ’n manier beter leer ken en bystaan. Dit is van groot waarde dat die twee buurtwagte weet dat hulle in tye van nood op mekaar kan staatmaak,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

“Die patrollies is ’n groot sukses vir ons buurtwag en ’n aanwins vir die gemeenskap. Misdadigers moet weet dat daar nie plek is vir hulle in ons gemeenskap nie en dat die inwoners sal saamstaan teen misdaad.  Die sigbaarheidspatrollies skep ook vertroue by die gemeenskap en verskerp waaksaamheid en weerbaarheid om misdaad in die omgewing hok te slaan. Goeie samewerking tussen die buurtwag, polisie en plaaslike veiligheidsinstansies stel ons in staat om die gemeenskap in tye van nood by te staan,” sê Joseph Renaud, AfriForum se hoof van veiligheid vir die sentraalstreek.

Om betrokke te raak by die Orkney- of Stilfontein-buurtwag, kontak Marius Trollip by 082 494 4123.

Soortgelyke plasings