|

Oupa Chembe eersdaags verhoor vir aanranding van jong man

Die saak teen Oupa Chembe (52) op klagtes van aanranding en kwaadwillige saakbeskadiging is vandag in die Krugersdorp Landdroshof uitgestel na 20 Julie 2022 wanneer ’n nuwe verhoordatum vasgestel sal word. Die verhoor sou na verwagting vandag begin het, maar die beskuldigde se prokureur het aangevoer dat die staat nie die beeldmateriaal van die voorval aan hom blootgelê het nie. Die privaatvervolgingseenheid tree op ingevolge ’n waaksaamheidsopdrag namens Zander Oosthuizen, die klaer in die saak, wat ten tyde van die voorval nog op skool was. 

Chembe het na bewering in Augustus 2021 ’n duik in Oosthuizen se voertuig geskop en hom aangerand. Oosthuizen en twee van sy vriende was nog in hul skoolklere toe die ongevraagde aanval in die parkeerarea van die Key West-winkelsentrum in Krugersdorp plaasgevind het. Die privaatvervolgingseenheid het by hierdie saak betrokke geraak as gevolg van kommer dat daar onbehoorlike inmenging by die ondersoek was.

Volgens Andrew Leask, hoofondersoeker by AfriForum se privaatvervolgingseenheid, is dit teleurstellend dat die verhoor nie vandag begin het nie. “Die saak is reeds op ’n vorige geleentheid in Maart 2022 uitgestel sodat die verhoor vandag kon begin. Op hierdie geleentheid het adv. Gerrie Nel die hof toegespreek juis omdat hierdie saak so sloer en die ondersoekbeampte het die onderneming gegee dat hy die nodige getuienis aan die beskuldigde se regspan sou blootlê. Dit het egter nie gebeur nie,” sê Leask.

Adv. Jenna Downs, ’n aanklaer van die Nasionale Vervolgingsgesag, het nou die saak oorgeneem en sy het die klaer, asook die privaatvervolgingseenheid verseker dat die nodige prosesse gevolg sal word sodat die saak spoedig verhoor kan word. “Ons is vol vertroue dat Chembe binnekort verhoor sal word vir die beweerde voorval. Diegene wat hulself skuldig maak aan hierdie tipe boeliegedrag en daardeur die wet oortree, moet besef dat daar gevolge vir hul dade is,” sluit Leask af.

Soortgelyke plasings