|

Polisie BBP-beskermingsbeampte gaan adjunkspeaker van Gauteng Provinsiale Wetgewer privaat vervolg

Vuyo Mhlakaza-Manamela, adjunkspeaker van die Gauteng Provinsiale Wetgewer, moet haarself aan die hof verduidelik omdat sy na bewering ’n polisiebeampte aangerand het. Dit is die wens van ’n beampte van die polisie se beskerming en sekuriteitsdienste, sers. Lizzy Mojapelo, wat AfriForum se privaatvervolgingseenheid om hulp genader het. Die saak is verlede jaar teruggetrek nadat senior aanklaers glo aan Mojapelo gesê het die saak sal moeilik vervolg word omdat die verdagte ’n baie hoëprofielpersoon is.

Die beweerde aanranding het in Februarie 2020 by die huis van Mhlakaza-Manamela en haar man, Bhuti Manamela, adjunkminister van hoër onderwys, plaasgevind. Mojapela beweer die verdagte het haar in ’n dronk woedebui erg aangerand. Sy sê verder dat haar polisiehoofde haar nie wou help om ’n saak te open nie, maar eerder alles in hul vermoë gedoen het om daardie pogings te ontwrig.

’n Mediese ondersoek het bevestig dat Mojapelo veelvuldige beserings opgedoen het, en ook bevestig sy was toe 11 weke swanger. Sy het vaginale bloeding opgedoen en moes vrugbaarheidsbehandeling ontvang om te verseker dat haar swangerskap nie beëindig word nie.

Mojapelo, as ’n ywerige en pligsgetroue polisiebeampte, het besonderhede van die beweerde aanranding met elke stap van die proses gedokumenteer — van die voorvalleboek op die misdaadtoneel tot die saamstel van aantekeninge van haar interaksies met aanklaers en ondersoekers. Ten spyte van die prima facie getuienis teen Mhlakaza-Manamela, het die Nasionale Vervolgingsgesag geweier om die saak voort te sit.

“Ons het hierdie eenheid gestig om die beginsel van gelykheid voor die reg te herstel, insluitend politici wat weens hul verbintenisse van vervolging beskerm word. Ons loof sers. Mojapelo vir haar sterk oortuiging en sal verseker dat politici, soos enigiemand anders wat na bewering misdade gepleeg het, tot verantwoording geroep word,” sê adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Hierdie saak het raakpunte met ander aanrandingsake waarby politici betrek word wat deur die privaatvervolgingseenheid hanteer word. In plaas daarvan om laer te trek om polisiebeamptes en hulle te ondersteun, poog die strafregstelsel eerder om politici te beskerm teen verantwoordbaarheid vir hul gewelddadige optrede. AfriForum se privaatvervolgingseenheid neem ferm standpunt in teen selektiewe vervolging en sal verseker dat almal gelyk is voor die reg.

Soortgelyke plasings