|

AfriForum raai ouers aan om Vrydag reeds hul kinders te registreer vir graad 1 of graad 8

Ouers/voogde wat hul kind/ers vir graad 1 of 8 wil inskryf in Gautengse skole vir 2023 moet daarvan kennis neem dat die aanlynregistrasieproses op Vrydag 22 Julie om 08:00 open. Dié tydperk verstrek reeds op 19 Augustus 2022 wat beteken dat ouers minder as ’n maand het om hul kinders in te skryf. AfriForum moedig ouers aan om so gou moontlik hierdie registrasieproses af te handel om te verseker dat hul kinders in die skool van hul keuse geplaas word.

Aansoeke vir plasing in Gautengse skole vind slegs aanlyn op die Gautengse Departement van Basiese Onderwys se webwerf plaas. AfriForum het riglyne saamgestel om ouers wat hul kinders vir hierdie grade wil inskryf, by te staan en verskaf ook ’n platform waar ouers wat enige onoorkombare probleme met die sisteem ervaar, raad kan vra.

Ouers sal eers van 3 Oktober tot 30 November 2022 per SMS in kennis gestel word van watter skool hul kind/ers by geplaas is en het dan sewe skooldae om die departement se aanbod aangaande die skool te aanvaar. Dit is belangrik dat ouers moet weet dat almal nie op een slag SMS’e gaan ontvang nie. SMS’e aangaande die plasingsaanbod kan enige tyd van 3 Oktober tot 30 November 2022 verwag word.

Ouers gaan moontlik ook meer as een aanbod ontvang, aangesien daar by ’n maksimum van vyf skole aansoek gedoen kan word. Indien ’n aanbieding aanvaar word, sal die ander aanbiedinge outomaties verval. Volgens die Gautengse Onderwysdepartement word leerders geplaas volgens die afstand wat hul van die skool af woon – leerders wat die naaste aan die skool woon, sal voorkeur geniet. Die voedersone van ’n skool en ’n skool se kapasiteit sal ook in ag geneem word.

Die tydperk vir laataansoeke sal eers tussen 20 Desember 2022 en 20 Januarie 2023 oop wees en leerders kan dan slegs geplaas word in skole waar daar steeds plek oor is. Ouers word daarom gemaan om reeds tydens die registrasieperiode van 22 Julie tot 19 Augustus 2022 aansoek te doen om die plasing van hul kinders in graad 1 of graad 8 by die skool van hul keuse.

“AfriForum wil ouers aanraai om so gou moontlik hul kinders by die skool van hul keuse te registreer. Vroeë registrasie laat ruimte om enige moontlike probleme met die aanlynproses betyds uit te stryk. Dit is algemeen bekend dat daar te min skole in Gauteng is en hierdie probleem moet voor die deur van die Gautengse Departement van Basiese Onderwys gelê word. Dit benadruk egter die dringendheid daarvan dat kinders vinnig ingeskryf moet word. AfriForum wil ook graag vir ouers wys op die ontsaglike voordele wat moedertaalonderrig (veral op skoolvlak) inhou wanneer hulle ’n besluit maak oor die skool waarby hulle hul kind/ers wil inskryf,” sê Natasha Venter, adviseur vir onderwysregte by AfriForum.

Soortgelyke plasings