|

AfriForum se teenboelieveldtogspan besoek Roepersfontein en die Kriel-gemeenskap met Die Val-film

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan en AfriForumTV het op  27 Januarie 2023 by die Roepersfontein Bedieninge Kerk in Kriel besoek afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in gemeenskappe en sluit ook praatjies by skole in. AfriForum het ook verlede jaar op 10 September 2022 (Wêreldselfdoodbewusmakingsdag) ’n film, Die Val, vrygestel.

“Die jeug van die gemeenskap kon Die Val op AfriForumTV by Roepersfontein se R.O.C.K. Youth-sentrum kyk. Hierdie film skep bewusmaking oor boeliegedrag en selfdood en bemagtig tieners met die nodige kennis en vaardighede om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind, met ander woorde om boeliebestand te wees. Hierdie film fokus veral ook op kuberafknouery, omdat dit deesdae ’n groot probleem onder tieners is. Dit is voorwaar ’n wonderlike inisiatief van die Roepersfontein-gemeente om ook op so ’n manier ’n verskil in hul gemeenskap te maak. Saam skep ons hoop en sorg dat gemeenskappe vry, veilig en voorspoedig is,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

Twee van die akteurs, Jaco Schoeman (wat die rol van Wian vertolk) en Jade Morey (wat die rol van Tracey vertolk) het ook hierdie geleentheid bygewoon en handtekeninge uitgedeel.

“Boeliebewusmaking onder die jeug is uiters belangrik. Dit het in die verlede al menige kinders se toekoms verwoes, want hul selfbeeld is afgebreek, hul temperamente het verander en hul selfvertroue is geknak. Onderwysers, ouers en maats moet besef afknouery is nie ’n grap nie, maar ’n ernstige saak. Aandag moet aan boeliegedrag geskenk word sodat dit onmiddellik stop gesit kan word,” meen Woutie Pieterse, hoofsekretaresse van Roepersfontein.

“Dit is belangrik om hierdie film te kyk sodat ons bewus kan raak van die impak wat boeliegedrag op tieners het. Hierdie film help ook om tekens van depressie raak te sien en te identifiseer en dit sal mense aanmoedig en bemagtig om op te tree en ’n verskil te maak – dit sluit ouers en onderwysers in,” sê Katelynn Labonté, regisseur van Die Val.

Die Val kan gratis op AfriForumTV gekyk word by www.afriforumtv.co.za. Die toepassing kan ook op Google Play Store of die App Store afgelaai word. Vir meer inligting oor die film, besoek gerus www.dievalfilm.co.za.

Stuur ’n e-pos na tania.scheepers@afriforum.co.za as jou kind se skool by hierdie veldtog betrokke wil raak.

Soortgelyke plasings