|

Noord van die berg-tak neem beheer van Heldeakker-begraafplaas

AfriForum se Noord van die berg-tak is voortaan verantwoordelik vir die instandhouding van die Heldeakker-begraafplaas se tuine. Die tak het amptelik toestemming van die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit gekry om hierdie terrein weekliks op te knap.

Dit spruit uit Quentin Meyer, voorsitter van die Noord van die berg-tak, se liefde en omgee vir Suid-Afrika se erfenis. Meyer het ’n Adopt-a-Spot-kontrak met die Tshwane-metro gesluit vir die Heldeakker-begraafplaas. Die Adopt-a-Spot-program is ’n inisiatief deur die metro wat nywerhede, ondernemings en inwoners in staat stel om enige oop ruimte wat aan die metro behoort sonder enige koste aan te neem.

Die tak het egter nie gras onder hulle voete laat groei om met dié belangrike taak te begin nie. Hulle het ’n Kudu-grassnyer aangekoop om die gras by die begraafplaas vinniger en meer doeltreffend te sny. Maandeliks word sowat 2 hektaar gras by die begraafplaas gesny, terwyl ongeveer 300 sakke tuinvullis verwyder word.

“Geskiedenis speel ’n belangrike rol in ons lewe. Dit help ons om uit die verlede te leer en om beter besluite in die toekoms te neem, daarom moet hierdie erfenis bewaar word vir die volgende nageslag,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Noord.

Raak vandag nog by AfriForum se Noord van die berg-tak betrokke: www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings