|

POLITIEKE WIL ONTBREEK BY DWS OM PLAASLIKE OPLOSSINGS VIR PLAASLIKE PROBLEME TE KRY

AfriForum het vandag sy bekommernis uitgespreek oor die gebrek aan politieke wil by die Departement van Water en Sanitasie (DWS) om plaaslike oplossings te vind vir die voortslepende water- en sanitasieprobleme waaronder die land gebuk gaan.  AfriForum se kommer volg op  minister Lindiwe Sisulu se antwoorde op ’n reeks parlementêre vrae oor die vergoeding, kwalifikasies en verpligtinge van 25 Kubaanse ingenieurs wat aangestel is.

Volgens Lambert de Klerk, bestuurder van Omgewingsake by AfriForum, het AfriForum onlangs omvattende voorstelle vir oorweging aan die minister en haar span gestuur. “Soos die meeste staatsdepartemente, is die DWS verlam en eenvoudig onbekwaam om volhoubare ingrypings in die land se munisipaliteite te bewerkstellig om water- en sanitasiedienste te lewer waarop gemeenskappe geregtig is. AfriForum se voorstelle vir ingrypings op verskeie vlakke is werkbaar, maar die DWS se dawerende stilte daaroor is veelseggend,” sê De Klerk.

“AfriForum se onlangse betrokkenheid by die bestuur van die water- en rioolwerke in Koster deur middel van die Pionier Dienstemaatskappy het dit baie duidelik gemaak dat gemeenskappe en plaaslike kundiges gewillig én bekwaam is om volhoubare ingrypings te bewerkstellig. Regsruimtes bestaan vir byvoorbeeld gemeenskap/openbare-vennootskappe, maar die wil van munisipaliteite en staatsdepartemente ontbreek.

“Plaaslike oplossings vir plaaslike probleme is ’n werklikheid. AfriForum se 155 takke landswyd staan gereed om die DWS en munisipaliteite te ondersteun en die kundigheid wat Sisulu nou ten duurste invoer, is onmiddellik in ons ledebasis en netwerk beskikbaar,” sê De Klerk.

Ongelukkig is munisipaliteite en munisipale bestuurders as onaantasbaar deur die ANC verklaar. Staatsdepartemente is te bang om die ingewikkelde netwerk van ontplooide kaders tot verantwoording te roep. “Terwyl die minister Kubane aanstel en klaarblyklik nóg sulke aanstellings beplan,  vloei daar riool in ons damme, riviere en strate. Gemeenskappe sit sonder water. Dit is ’n kwade dag wanneer die hand wat oplossings bied, weggeklap word om gevestigde belange en uitgediende ideologieë te bevoordeel,” sluit De Klerk af.

Soortgelyke plasings