| |

Motshekga en ANC wys ware kleure met Bela

Die burgerregteorganisasie AfriForum meen dat die minister van Basiese Onderwys, Angie Motshekga, met haar kommentaar oor die omstrede Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (ook bekend as die BELA-wet), weer haar en die ANC se ware kleure gewys het. Motshekga het naamlik op 1 Oktober verklaar dat die regering “verby die stadium” is van toegewings maak aan beheerliggame “ter wille van vrede in die land” en dat “’n selfrespekterende regering” nie kan toelaat dat ’n skoolbeheerliggaam voorskryf wat ’n skool se taal- of toelatingsbeleid mag wees nie.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof van Kultuursake, maak dit verskeie sake duidelik, soos dat die ANC daarop uit is om alle moontlike mag in hulle hande te sentreer, geen idee het wat ’n werklike demokrasie is nie, skole se beheerliggame as ’n las eerder as die bate wat dit in werklikheid is, beskou, en eentalige Engelse onderrig voorstaan.

Bailey noem dat Motshekga weer van die mitiese kind wat oorkant die skool woon, praat. Die minister meen die kind moet kan aandring op Engelse onderrig, al is die skool Afrikaans. “Sou dieselfde dan geld vir die Afrikaanse of Zoeloe kind wat oorkant ’n Engelse skool woon en op moedertaalonderrig aandring – veral omdat Motshekga enkele weke gelede sogenaamd ’n groot voorstander van moedertaalonderrig was? En wat van die laerskoolkind wat oorkant ’n hoërskool woon, of oorkant ’n skool wat nie die vakke aanbied wat hy wil neem nie? Net soos ouers bereid is om honderde kilometers af te lê of kinders in koshuise te plaas ter wille van onderrig in spesialisrigtings, is ouers bereid om honderde kilometers af te lê vir moedertaalonderrig. Motshekga se uitsprake maak dit duidelik dat net kinders wat Engelse onderrig verlang, in haar en haar party se oë regte het,” meen Bailey.

Die selfrespekterende regering waarvan Motshekga praat, het volgens Bailey min om op trots te wees. “Dieselfde beheerliggame en skoolgemeenskappe wat Motshekga slegsê, is diegene wat sorg dat die staat se skamele bydraes aangevul word sodat onderwysers in beheerliggaamposte aangestel kan word, behoeftige kinders ondersteun word, skoolterreine opgeknap en in stand gehou word en skole se ligte letterlik aan kan bly wanneer die staat nie munisipale diensterekeninge vereffen nie. As ons na dié sake en die uitslae van internasionale toetse soos PIRLS kyk, moet daar eerder van ’n regering sonder selfrespek gepraat word.”

Bailey hou vol dat, soos wat die minister ontken, maar met haar weersprekende uitlatings bewys, die Bela-wetsontwerp ’n aanslag spesifiek teen Afrikaanse skole is. Bailey beklemtoon egter dat die effek van die implementering daarvan, veel wyer sal uitkring. “In Gauteng het ons reeds gesien dat selfs ook Engelsmedium skole gedreig word om hulle leerderinname dramaties te vergroot en ruimtes wat vir onder meer biblioteke, rekenaarsentrums en laboratoriums gebruik word, ook as klasse in te span. Saam met die vernietiging van Afrikaanse moedertaalonderrig en beëindiging van ander inheemse tale se aspirasies om ook meer geleenthede vir moedertaalonderrig te kan aanbied, sal die departement eenvoudig wanfunksionele skole aan hulle lot oorlaat en funksionele skole volstop ten einde kiesers te probeer tevrede hou. Bela is dus ook ’n aanslag teen gehalte onderrig. Om die rede moet almal standpunt teen daarteen inneem en as dit aanvaar sou word, saam met AfriForum litigeer daarteen. Die toekoms van ons jeug is op die spel,” beklemtoon sy.

Ondersteun AfriForum se stryd teen hierdie wetsontwerp hier.

Soortgelyke plasings