|

GOP: Onwettige kragverbindings soos ’n plaag in Ermelo

Onwettige kragverbindings raak toenemend ’n probleem in Ermelo, soveel so dat AfriForum se Ermelo-tak al moes ingryp om ’n onwettige verbinding naby ’n kleuterskool te beveilig. Dié verbinding, en die talle ander wat in Ermelo kop uitsteek, is nie net lewensgevaarlik vir enigiemand wat daarmee werk nie, maar dra ook by tot die land se voortslepende kragkrisis. Dit is om dié rede dat die Ermelo-tak in sy skriftelike kommentaar op die Msukaligwa Plaaslike Munisipaliteit se geïntegreerde ontwikkelingsplan (GOP) voorstel dat die munisipaliteit so gou moontlik hierdie probleem, en talle ander, die hoof bied.

’n Deelnameproses word jaarliks in munisipaliteite landwyd gehou, waartydens die publiek en ander belanghebbendes munisipaliteite kan nader met probleme in hulle dorpe en aanbevelings maak vir dit waarvoor die munisipaliteite in die daaropvolgende jaar moet begroot. AfriForum-takke landwyd neem ook aan die proses deel om lede se stem te laat hoor en druk op munisipaliteite te plaas om dienslewering op spesifieke terreine op te skerp.

Aan die einde van die 2021/2022-boekjaar het die munisipaliteit, volgens die ouditeur-generaal se verslag, meer as R900 miljoen tot sy beskikking gehad. Tog is die munisipaliteit se skuldlas by Eskom baie hoog en word daar boonop bykomende beurtkrag toegepas as gevolg hiervan. Die Ermelo-tak het in sy kommentaar versoek dat die munisipaliteit dadelik rekenskap gee hieroor en die skuld begin vereffen. Andersins, stel die tak voor, moet die munisipaliteit vinnig onwettige kragverbindings in die dorp hok slaan.

“Onwettige kragverbindings veroorsaak dat die vraag na krag veel groter is as die aantal mense in Ermelo wat in staat is om daarvoor te betaal. Dit beteken dat die munisipaliteit net verder in die rooi gedompel word, terwyl die inwoners gebuk gaan onder bykomende beurtkrag,” sê Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld.

Die tak het ook aangedui watse ander probleme in die komende jaar vir begroot moet word. Dit sluit die volgende in:

  • Talle hoofstrate, soos Jan van Riebeeckstraat en die N17 in die rigting van Carolina, moet herstel word. Voertuie word gereeld deur slaggate beskadig en die paaie is oor die algemeen onveilig as gevolg van motoriste wat uitswaai om gate te mis.
  • Die rioolsuiweringsaanleg moet opgegradeer word. Die probleem kom al jare aan en veroorsaak dat rou riool gereeld gestort word. Daar is al ook op verskeie geleenthede geld beskikbaar gestel om die aanleg te herstel, tog word dit steeds nie gedoen nie.
  • Die vullisterrein in Ermelo benodig ook dringend aandag. Die bestuur daarvan is onvoldoende en die rommel word nie eens binne die perseel geberg nie.

“Dienslewering in Ermelo verswak tot so mate dat mense se lewens in gevaar is sodra hulle ‘n voet buite die huis sit. Dit is onaanvaarbaar en daar moet nie van inwoners verwag word om so te leef nie,” sê Bekker.

Inwoners wat deel van AfriForum se Ermelo-tak wil word kan www.wordlid.co.za besoek vir meer inligting.

Soortgelyke plasings