|

AfriForum sê begrotingsdruk beklemtoon onwenslikheid van BELA-wetsontwerp

Na afloop van die laaste openbare raadplegingsessies oor die Wysigingswetsontwerp op Basiese Onderwyswette (die sogenaamde BELA-wetsontwerp) verlede week, het AfriForum weer ’n beroep op die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) gedoen om die wetsontwerp te verwerp, aangesien dit onwenslik en onuitvoerbaar is.

Volgens Alana Bailey, AfriForum se hoof vir Kultuursake, bewys die begrotingsbesnoeiings  wat die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) tans onderneem, en wat die onderwysowerhede in die ander provinsies van die land ook genoodsaak sal wees om te volg, hierdie stelling.

“In Maart vanjaar het die Finansiële en Fiskale Kommissie (FFK) in ’n voorlegging aan die Wes-Kaapse wetgewer aangedui dat ’n addisionele begroting van sowat R17.7-miljard nodig sal wees om die bepalings van die wetsontwerp in werking te stel. Terwyl die land se onderwysbegroting sodanig besnoei word dat noodmaatreëls soos die beëindiging van onderwyskontrakte geneem word, is dit ondenkbaar dat hierdie aanvullende las op die begroting gelaai kan word,” verduidelik Bailey.

Sy noem dat ’n inkrimpende onderwysbegroting openbare skole verplig om selfs nog nouer met hulle leerders se ouers en gemeenskappe saam te werk. “Tans dra ouers en gemeenskappe hulle skole omdat hulle deur die demokraties verkose beheerliggame aktief deel van die bestuur en werksaamhede daarvan is. Indien hulle finale seggenskap oor onder meer skole se toelatings- en taalbeleid egter voortaan in die hande van provinsiale onderwyshoofde moet berus, soos die wetsontwerp voorstel, kan hierdie kosbare verhouding verbrokkel. Dit sal die finansiële las op skole vererger. Dit is duidelik dat die wetsontwerp nie hierdie heilsame verhouding probeer bevorder nie, maar slegs op die magsuitbreiding van amptenare fokus. Dit alles geskied ten koste van die toekoms van ons jeug,” sê sy.

Bailey herhaal dat indien die NRP die wetsontwerp sonder betekenisvolle wysigings aanvaar en dit na die president vir finale ondertekening verwys, AfriForum gereed is om dit met regstappe teen te staan. Enigeen wat die regsproses wil ondersteun, kan hulle mandaat daarvoor aan AfriForum gee by www.stopbela.co.za.

Soortgelyke plasings