|

Weermagoffisier wat MIV versprei moet later weer in hof verskyn

Die beskuldigde offisier van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) wat van poging tot moord aangekla word omdat hy die klaagster in die saak doelbewus en sonder haar wete met MIV besmet het, het vandag in die Pretoriase Landdroshof verskyn. AfriForum ondersteun die klaer en haar familie. Die beskuldigde het vandag reeds regsverteenwoordiging in die hof gehad, asook wat ses lyfwagte blyk te wees. Dié “lyfwagte” het ’n AfriForum-werknemer, wat probeer het om foto’s van die beskuldigde buite die hof te neem, probeer intimideer om dié foto’s uit te wis.

“AfriForum wil dit duidelik stel dat ons nie geïntimideer kan word nie, veral nie wanneer dit kom by die strewe na geregtigheid nie. Die familie het ons genader om hulle met die verhoor van die beskuldigde te ondersteun en toe te sien dat hy vir sy dade boet – en ons sal voortgaan om dit doen,” sê adv. Phyllis Vorster, aanklaer by AfriForum se privaatvervolgingseenheid.

Die saak is tot 16 September 2020 uitgestel sodat afskrifte van die dossier aan die beskuldigde se regspan oorhandig kan word.

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het in 2018 by dié saak betrokke geraak nadat ’n lid van die media dié eenheid om hulp genader het. Die eenheid het ná oorlegpleging met die aanklaer verneem dat die SANW versuim het om die nodige inligting aan die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) te verskaf. Ná volgehoue druk deur die eenheid is die dossier nou volledig en kon die NVG voortgaan om die beskuldigde aan te kla.

Soortgelyke plasings