|

MIV-saak: Voormalige soldaat skuldig aan poging tot moord en verkragting

Leon Santos Conga, ’n voormalige soldaat van die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) is gister (11 Junie 2024) in die Pretoria-streekhof skuldig bevind aan poging tot moord en verkragting ná hy versuim het om sy MIV-status aan die klaer bekend te maak en haar met dié virus besmet het. AfriForum se privaatvervolgingseenheid het Antoinette Ndishishi, die klaer in hierdie saak, sedert 2018 verteenwoordig. Die bewyse wat die privaatvervolgingseenheid verkry het, het bygedra tot die skuldigbevinding.

Die privaatvervolgingseenheid het die SANW gedwing om Conga se mediese verslae vry te stel  wat daarop gedui het dat Conga sedert 2007 al bewus was van sy MIV-status. Die SANW se aanvanklike weiering om hierdie verslae vry te stel het die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) genoop om die saak twee keer te onttrek. Sonder hierdie verslae sou die dossier nie genoegsame inligting bevat het om die beskuldigde aan te kla nie. Conga het in Maart 2022 onskuldig gepleit op die aanklagte teen hom.

Landdros Fikiswa Ntlati het Conga skuldig bevind aan verkragting aangesien Ndishishi slegs ingestem het om onbeskermde seks met hom te hê nadat hy gesê het dat hy MIV-negatief was. Die hof het Ndishishi se getuienis aanvaar dat as Conga eerlik was oor sy status, sy nie sou instem om onbeskermde seks met hom te hê nie. Ndishishi en Conga het die kwessie bespreek, maar hy het hierdie belangrike inligting van haar weerhou.

Ntlati het Conga skuldig bevind aan poging tot moord aangesien hy Ndishishi met die virus besmet het terwyl hy ten volle bewus was van sy MIV-status en haar nie ingelig het nie. Die hof het deskundige getuienis aanvaar dat MIV ’n siekte is wat ongeneeslik en noodlottig is.

Ntlati het bevind dat Ndishishi ’n geloofwaarde getuie is en gesê dat sy ’n goeie indruk op die hof gemaak het in die wyse waarop sy haar getuienis gelewer het en die vrae beantwoord het. Volgens Ntlati het Ndishishi haarself nie weerspreek nie en het sy selfs tydens die kruisondervraging vasgestaan op haar getuienis.

Adv. Gerrie Nel, hoof van die privaatvervolgingseenheid, sê dat dit oomblikke soos hierdie is wat hom inspireer het om ’n aanklaer te word. “Die privaatvervolgingseenheid is gestig om geregtigheid te verseker vir slagoffers van misdaad. Hierdie uitspraak is betekenisvol vir die ontwikkeling van die reg omdat dit ’n beter begrip sal vestig rondom die definisie van toestemming. Antoinette het ingestem tot onbeskermde seks slegs omdat die beskuldigde gesê het dat hy MIV-negatief is.”

“Ons deel in Antoinette se verligting oor hierdie bevinding, maar ons glo ook dat sy geregverdig voel. Toe sy ons genader het in 2018 het sy geen hulp ontvang nie, selfs nie van die SANW ad nie. Die privaatvervolgingseenheid sal aanhou om vroue te help wat hulle weg deur die strafregstelsel probeer vind ten einde hulle stemme gehoor te laat word. Ons wil ook adv. Emile van der Merwe, die aanklaer, bedank vir sy toewyding om te verseker dat geregtigheid kon geskied,” sê Nel.

Screenshot

Volgens Ndishishi is sy dankbaar vir die ondersteuning wat sy van die privaatvervolgingseenheid ontvang het. “Voorheen het ek net my ma se ondersteuning gehad. Ek voel dat ek nou geregtigheid gekry het aangesien hy op albei klagtes skuldig bevind is. Eerlikwaar, ek was in trane toe ek die landdros se woorde hoor. Ek het werklik gehuil. Ek het gehuil omdat ek nou al vir sewe jaar baklei, ek is só gelukkig oor hierdie uitspraak.”

“Dit sal goed wees as ander vroue na vore kom en hierdie kwessies aanmeld, veral omdat ons in Suid-Afrika ’n hoë MIV-infeksiekoers het. Hulle moenie bang wees nie. Ek weet dat meeste vroue sal sê dat hulle bang is om na vore te kom weens die stigma en diskriminasie wat met MIV geassosieer word en omdat dit ’n uitgerekte proses is. Maar as jy geduldig is en sterkstaan in jou besluit dan gaan jy dit maak. Hulle moenie bang wees nie. Ek glo dat mense wat hierdie dade pleeg toegesluit moet word,” sluit Ndishishi af.

Die saak is uitgestel tot 7 Augustus vir die vonnisoplegging.

Soortgelyke plasings