|

Dis ’n vrotspul! AfriForum Bloemfontein oorhandig memorandum oor swak dienslewering aan Mangaung-metro

Vrot dienslewering in die Mangaung Metropolitaanse Munisipaliteit laat ’n vrot smaak in die mond en ’n selfs vrotter stank in die lug. Dít omdat dié metro wat die Vrystaatse hoofstad bedien, nie hul verpligting ten opsigte van veral vullisverwydering in Bloemfontein nakom nie.

AfriForum Bloemfontein het daarom gister (23 November 2023) ’n memorandum aan die metro oorhandig en eis nou dat daar onmiddellik opgetree word om die swak vullisverwyderingsdiens wat dié metro lewer, reg te ruk. Daarbenewens dring dié burgerregteorganisasie daarop aan dat die meer as 600 inwoners, wat reeds sedert September 2020 van AfriForum se eie vullisverwyderingsdiens gebruik maak, kwytgeskel word van betaling vir die metro se vullisverwyderingsdiens.

Die metro word reeds jare lank gekenmerk deur wanbestuur en swak dienslewering. Swak vullisverwyderingsdienste het AfriForum Bloemfontein egter genoop om ’n eie diens te begin om sodoende aan die gemeenskap – wat telkens weke lank geen vullisverwyderingsdiens van die metro ontvang nie – ’n oplossing te bied. Hierdie diens bied nie net betroubare vullisverwydering nie, maar verminder ook gesondheids- en veiligheidsrisiko’s wat met die ophoping van vullis gepaardgaan.

’n Veldtog waardeur AfriForum-lede wat reeds van privaat vullisverwyderingsdienste gebruik maak, aangemoedig word om aansoek te doen vir die kansellasie van vullisverwyderingsdienste in hul munisipale rekeninge, is boonop reeds op 22 Augustus vanjaar van stapel gestuur. Meer as 600 lede is reeds deel van hierdie aksie. Die metro het egter die aansoek van die hand gewys en voer aan dat dié kansellasie nie tans oorweeg gaan word nie.

Die memorandum wat oorhandig is aan die munisipaliteit, het ten doel om die gemeenskap in hierdie morsige stryd by te staan. Die metro se swak en ongeorganiseerde vullisverwyderingskedules is die norm en dit duur soms weke voordat vullis enigsins verwyder word, benadruk Christo Groenewald, AfriForum se distrikskoördineerder vir Bloemfontein.

“Ons is reeds besig met ons regspan te konsulteer en is gereed om dié saak verder te dryf indien die munisipaliteit nie gehoor gee aan die gemeenskap se aansoek nie. Ingevolge Artikel 35 van die Mangaung-metro se munisipale bywet oor vullisbestuur, het inwoners ’n definitiewe reg om aanspraak te maak op kansellasie – dis is ’n reg wat hulle nou dringend opeis,” sê Groenewald.

Bloemfonteiners word aangemoedig om hul aansoeke om kansellasie van die Mangaung-metro se vullisverwyderingsheffing in te dien en aan te sluit by AfriForum se vullisverwyderingsdiens. Besoek https://afriforum.co.za/en/swak-dienslewering-in-bloemfontein/.

Soortgelyke plasings