|

Unisa weerhou kritieke inligting van onafhanklike ondersoeker

AfriForum se privaatvervolgingseenheid het opnuut vrae oor Unisa se motief om dr Reshma Mathura, die Universiteit se waarnemende uitvoerende finansiële beampte, te skors nadat dit aan die lig gekom het dat belangrike inligting nie bekendgemaak is aan die firma wat aangestel is om haar te ondersoek nie. Mathura glo dat haar rol om verdagte kontrakte uit te wys en haar samewerking met die Valke se ondersoek na korrupsie by hierdie instelling die motivering is vir die stappe wat teen haar geneem is. Die privaatvervolgingseenheid verteenwoordig Mathura in hierdie saak.

Prof. Puleng LenkaBula, visekanselier van Unisa, het Mathura op 19 April geskors om verskeie redes, onder andere ook bewerings vervat in ’n anonieme fluitjieblasersverslag wat ’n paar weke vantevore aan Unisa se bestuur gestuur is. In dié verslag word daar beweer dat vier ongevraagde betalings wat in Mathura se persoonlike bankrekening inbetaal is, omkoopgeld van studente is om hulle studiebefondsing goedgekeur te kry.

Die privaatvervolgingseenheid het in April ’n reeks briewe aan LenkaBula en dr Daniel Mosia, voorsitter van Unisa se raad, gestuur wat die inhoud van die fluitjieblasersverslag aanroer, besonderhede verskaf oor wat gebeur het, en verduidelik het hoe die ongevraagde betalings deel is van ’n komplot om Mathura valslik te impliseer.

Mathura het ook ’n volledige verklaring aan die Valke gegee wat die feite uiteensit. Hierdie verklaring is nou die onderwerp van ’n ondersoek.

Unisa het PWC in Mei aangestel om die bewerings wat in die fluitjieblasersverslag vervat is te ondersoek, maar het versuim om die briewe aan die PWC-span te oorhandig. PWC het in ’n brief aan die privaatvervolgingseenheid gesê dat hulle navrae oor die korrespondensie aan Unisa gerig  het. Die persoon wat die ondersoek aan Unisa se kant behartig het egter aan PWC beweer dat hy en sy span geen rekord van of toegang tot hierdie korrespondensie het nie.

Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaatvervolgingseenheid het in reaksie hierop gesê dat Unisa doelbewus nie op die privaatvervolgingseenheid se briewe gereageer het nie en beskou dit as kwaadwillig dat die universiteit nie al die relevante korrespondensie aan PWC beskikbaar gestel het nie. Volgens Nel is hierdie korrespondensie van kardinale belang om ’n omvattende ondersoek te doen.

LenkaBula en Mosia se versuim om die privaatvervolgingseenheid se korrespondensie aan PWC, en selfs die universiteit se ondersoekspan, beskikbaar te stel laat talle gevaarligte flikker dat die universiteitsbestuur nie in goeie trou optree nie en is hulle dus aandadig in die komplot om Mathura in wandade te impliseer.

Die privaatvervolgingseenheid sal binnekort met PWC vergader om die stand van hulle ondersoek te bespreek asook die feit dat die saak ook die onderwerp van ’n Valke-ondersoek is.

Soortgelyke plasings