|

AfriForum se buurtwagopleiding op die Mpumalanga Hoëveld nou selfs meer gerat vir sukses

Die sukses wat AfriForum se nege buurtwagte op die Mpumalanga Hoëveld behaal, sal nou – danksy die opleiding van twee bykomende baanoffisiere – selfs verder uitgebrei kan word. Baanoffisiere staan AfriForum-buurtwagte by met opleidingsgeleenthede en sien toe dat gehalteopleiding in onder meer vuurwapenhantering gedoen word.

Die nege buurtwagte wat tans in die Mpumalanga Hoëveld-streek funksioneer, is gestasioneer op Delmas, Standerton, Secunda, Ermelo, Middelburg, Chrissiesmeer en Piet Retief. Die twee nuwe baanoffisiere, Hennie Bekker van Morgenzon en Jaco van der Merwe van Ermelo, gaan binnekort opleidingsessies oor die hele Hoëveld heen begin aanbied.

Volgens Hennie Bekker, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Hoëveld, vorm die baanoffisiere deel van AfriForum se Vrywilligersopleidingskorps (VOLK)-opleiding waarin gemeenskaps- en buurtwaglede bemagtig word met die nodige kennis en vaardighede wat vir doeltreffende gemeenskapsbeveiliging benodig word. Baanoffisiere staan dus ander AfriForum-buurtwaglede by en is opgelei om basiese skietklasse vir AfriForum-lede aan te bied. Deur hierdie opleiding word buurtwaglede bemagtig en touwys gemaak in veilige vuurwapenhantering.

Vuurwapenopleiding vorm deel van die Vlak 1-opleiding wat AfriForum aan alle buurtwaglede bied en dien as inleiding wat buurtwaglede toerus met basiese kennis oor wetgewing en ander buurtwagaangeleenthede. Na afloop van die suksesvolle voltooiing van die Vlak 1-opleiding, ondergaan AfriForum-buurtwaglede die meer gevorderde Vlak 2-opleiding wat meer gefokusde opleiding bied. Die opleidingsgeleenthede word twee of meer keer per jaar aangebied.

“Gehalteopleiding en -toerusting is onontbeerlike elemente in die sukses van AfriForum se buurtwagte. Juis daarom kan ons enige aangeleentheid hanteer wat ’n gemeenskap se veiligheid raak,” sê Jaco van der Merwe, voorsitter van AfriForum se Ermelo-tak.

“Ons sukses is gekoppel aan die feit dat ons buurtwaglede nie betaal word om ’n verskil in ons mense se lewe te maak nie. Dit is ’n roeping wat hulle met groot trots nastreef,” benadruk Bekker.

AfriForum se Mpumalanga Hoëveld-streek beoog intussen om binnekort nog twee baanoffisiere op te lei om die aanbod aan buurtwaglede nog verder uit te brei.

Gemeenskapslede word uitgenooi om betrokke te raak by hul plaaslike buurtwag. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings