|

AfriForum se Thabazimbi-tak maak vordering met herstel van reservoirs

Die AfriForum-tak in Thabazimbi het onlangs met die tweede fase van sy projek begin om Thabazimbi se reservoirs in Jordaanstraat na hul volle glorie te herstel. Die woongebied wat water van dié reservoirs ontvang, gaan al vir vyf jaar gebuk onder watertekorte. 

Tydens hierdie fase is die water wat die afgelope paar jaar in die reservoirs opgegaar en vrot geword het, uit drie van die vier reservoirs gepomp. Daarna is die binnekant van die reservoirs van hoek tot kant met chloor gewas en die geroeste pype is vervang. Laastens is daar uiteindelik met die verspreiding van water van Magalies Water na die drie reservoirs begin. Hierdie water behoort oor sowat ’n maand die dorpenaars se krane te bereik.

Tydens die eerste fase is die pad na die reservoirs oorgedoen.

Die tak is nog besig met herstelwerk aan die vierde reservoir.

Sodra al die reservoirs herstel is, sal die derde fase van die projek afskop waartydens die watertoevoer na inwoners voorberei word. Dit gaan behels dat die dorp se pype na vyf jaar eers gespoel word om te verseker skoon drinkwater bereik die krane.

“Hierdie verbintenis tot die verbetering van die plaaslike watervoorsiening is prysenswaardig en tekenend van AfriForum se toewyding om die gemeenskap se belange te dien. Die onvermoeide werk van die organisasie se Thabazimbi-tak dien as ’n baken van hoop, wat die potensiaal vir positiewe verandering ten toon stel wanneer lede van die gemeenskap bymekaarkom vir ’n gemeenskaplike doel,” sê Hendrik Kotze, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo.

“AfriForum se werk in Thabazimbi dien as ’n bewys van die krag van gemeenskapsbetrokkenheid en proaktiewe probleemoplossing. Die toewyding en deursettingsvermoë wat deur AfriForum se Thabazimbi-tak getoon word, toon die gees van eenheid en vasberadenheid wat noodsaaklik is om uitdagings te oorkom en vooruitgang te bevorder,” voer Barry Knuppe, ondervoorsitter van AfriForum se Thabazimbi-tak aan.

Knuppe nooi belangstellendes om betrokke te raak by die AfriForum-tak en -buurtwag in Thabazimbi. Besoek www.wordlid.co.za vir meer inligting.

Soortgelyke plasings