|

Besigheidsbytjies begin met ’n gezoem

AfriForum se Besigheidsbytjiesspan, bestaande uit AfriForum Sakenetwerk en AfriForum se jeugleierskapspan, het op 27 Maart in samewerking met Akademia ’n seminaar aangebied vir ywerige, jong entrepreneurs om dié jaar se kompetisie met ’n gezoem te begin. Nagenoeg 70 skoliere het die seminaar bygewoon wat by Akademia, ook die hoofborg van die Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie, plaasgevind het. Verskeie sprekers, waaronder Albert van Wyk, ’n jong Suid-Afrikaanse entrepreneur en skrywer van onder meer “How to become a millionaire at 22”, het die leerlinge oor entrepreneurskap toegespreek.

“Ons het in die verlede gereeld skole besoek vir bewusmaking van ons Besigheidsbytjies-kompetisie. Hierdie jaar was ons baie bevoorreg om skoliere na ’n seminaar te nooi wat waarde toevoeg op hul pad as jong entrepreneurs. Akademia het dit vir ons maklik en moontlik gemaak om hierdie seminaar op hulle kampus aan te bied, terwyl van hul dosente ook kwaliteit sessies aangebied het,” sê Sanderien van der Walt, bestuurder van AfriForum Sakenetwerk.

AfriForum Sakenetwerk het in 2019 met die Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie vir skoliere begin. Dit het oor die afgelope paar jaar uitgebrei van slegs ’n laerskoolkompetisie (Hommelbytjies-kategorie) na ’n kompetisie waar hoërskoolleerlinge (Juniorpreneurs-kategorie) ook nou kan inskryf. Dié kompetisie beloon kreatiewe entrepreneurs van alle ouderdomme.

Soos oudergewoonte is daar groot kontantpryse op die spel is vir vanjaar se wenners:

Kategorie 1

Grondslagfase (graad 1–3)

Wenner: R3 000

Naaswenner: R1 500

Kategorie 2

Intersenfase (graad 4–6)

Wenner: R5 000

Naaswenner: R3 500

Kategorie 3

Senior fase (graad 7–9)

Wenner: R7 000

Naaswenner: R5 000

Kategorie 4

VOO-fase (graad 10–12)

Wenner: R10 000

Naaswenner: R7 000

“Die doel van hierdie kompetisie is om jong kinders se entrepreneursvaardighede van vroeg af te ontwikkel. AfriForum glo die Besigheidsbytjies-kompetisie sal ook leerders se leierseienskappe ontwikkel en hulle leer om self verantwoordelikheid te neem om hul unieke en innoverende idees uit te voer. Dit sal hulle ook aanmoedig om ’n verskil in die samelewing en in ons land te maak. Ons kinders is immers die leiers van die toekoms en hulle kan hoop skep deur reeds van ’n jong ouderdom af aan hulle toekoms te bou. Hierdie seminaar het beslis tot al die bostaande faktore bygedra en ons is opgewonde om te sê dat dit ’n reuse-sukses was,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

Entrepreneurs van oor die land heen kan tot en met 31 Mei 2023 vir hierdie jaar se Besigheidsbytjies-entrepreneurskompetisie by www.besigheidsbytjies.co.za inskryf. Die wenner word op 10 Julie 2023 aangekondig. Meer inligting is ook by www.besigheidsbytjies.co.za beskikbaar.

Soortgelyke plasings