AfriForum kap SA Tourism en Departement van Toerisme oor beplande borgskap aan Engelse voetbalklub

Die burgerregteorganisasie AfriForum eis antwoorde van die Departement van Toerisme, oor die Departement se planne om ’n borgskap van £42.5 miljoen aan die Tottenham Hotspur-voetbalklub toe te staan. Hierdie borgskap tussen SA Tourism en die Tottenham Hotspur-voetbalklub sal blykbaar 36 maande duur. AfriForum meen dat hierdie fondse eerder op eie bodem aangewend moet word vir die ontwikkeling van Suid-Afrikaanse sporttalent.

Die organisasie het vandag in ’n regsbrief geëis dat daar duidelikheid gegee word oor onder meer waar die £42.5 miljoen – of sowat R 910 997 814.75 – vandaan gaan kom. Asook of die huidige sosio-ekonomiese uitdagings wat deur Suid-Afrikaanse burgers in die gesig gestaar word ooit in ag geneem is toe hierdie besluit geneem is.

AfriForum het verder geëis dat geen fondse aan die voetbalklub geallokeer moet word voordat daar nie aan Suid-Afrikaanse burgers ’n geldige verduideliking vir die borgskap gegee is nie.

“AfriForum veroordeel die moontlike betrokkenheid van die Departement van Toerisme by ’n internasionale sokkerspan ten sterkste, veral aangesien daar nie eens genoeg tyd, energie en fondse spandeer word om sport op eie bodem te ontwikkel nie. Hierdie fondse kan veral aangewend word om talentvolle jongmense in moeilike omstandighede te help om hulle vaardighede te ontwikkel ten einde hul omstandighede te ontsnap,” sê Ronald Peters, bestuurder van Sport en Jeug by AfriForum.

Besoek AfriForum Sport se webtuiste vir meer inligting.

Soortgelyke plasings