|

#VulDieGat: AfriForum se Lichtenburg-tak herstel 100de slaggate met 21,3 ton teer

Die AfriForum-tak in Lichtenburg het gedurende Julie 2024 verskeie suksesvolle slaggatprojekte voltooi danksy die hulp en skenkings vanuit die gemeenskap. Altesaam 21,3 ton teer is gebruik om slaggate in Lichtenburg te herstel. Hierdie is ’n bewys van die gemeenskap se onwrikbare toewyding tot padveiligheid.

In 2de Laan is 110 slaggate met 138 sakke teer en een drom SS 60-bitumen herstel. Die inwoners van 2de Laan het hierdie materiaal geskenk. In Mathewstraat is 42 slaggate herstel met drie sakke sement, 40 sakke teer en 50 liter SS 60-bitumen, wat deur Westvaal Isuzu, Lichtenburg, geskenk is.

Op die hoek van 8ste Laan en 3de Straat is die hele kruising herstel wat al die afgelope drie jaar flenters was. Hier is 12 sakke sement gebruik om diep gate gelyk op te vul. Daarna is die hele kruising (301 m2) met 10 ton warm teer en een drom SS 60-bitumen geteer. Hierdie kon gedoen word danksy NWK Lichtenburg se reuseskenking. Dankie aan Gideon du Preez van Lichcrete wat die warm teer vervoer het.

In Kerkstraat is ’n sloot wat vir ’n kragkabel gegrawe is met 15 sakke teer, wat Neokor Sekuriteit geskenk het, herstel. In Transvaalstraat is 65 slaggate herstel met 100 sakke teer en ’n half drom SS 60-bitumen. Twee ton warm teer is gebruik om die Dada Sentrum se in- en uitgang in Kerkstraat te teer. Die Dada Sentrum het dié skenking gemaak. Dankie aan Fransious Gilliland wat die warm teer vervoer het.

Hans Nel Bande het weer die benodigdhede geskenk sodat die 56 slaggate in Transvaalstraat herstel kon word. Dié gate is met ses sakke sement opgevul waarna twee ton warm teer en ’n halwe drom SS 60-bitumen gebruik is. Dankie aan Francois Gilliland wat hierdie teer vervoer het.

“Julie was AfriForum se nasionale slaggatmaand waartydens die burgerregteorganisasie landwyd soveel as moontlik slaggate herstel het. Die doel van hierdie projek is om ’n onmiddellike impak te maak aan ’n dorp se padinfrastruktuur. Beter paaie veroorsaak dat minder ongelukke op paaie plaasvind en verseker dat nooddienste vinniger by hul bestemmings kan aankom,” sê Armand Viljoen, AfriForum se distrikskoördineerder vir Marico.

AfriForum se Lichtenburg-tak bedank ook die Ditsobotla Plaaslike Munisipaliteit vir hul skenking van 22 sakke sement wat gebruik is om diep slaggate met gruis en sement op te vul. Groot dank aan NWK wat telkens hul snymasjien en roller beskikbaar stel vir AfriForum se teerspan en aan Gideon du Preez van Lichcrete wat die vrag warm teer aangery het.

Plaaslike ondernemings en gemeenskapslede word aangemoedig om deur middel van teerskenkings by die Lichtenburg-tak se slaggatprojek betrokke te raak en terselfdertyd spesifieke strate vir herstelwerk te nomineer.

Ons moedig inwoners ook aan om by AfriForum se Lichtenburg-tak aan te sluit. Besoek www.wordlid.co.za om aanlyn aan te sluit. Bel vir Pine Pienaar by 082 371 5312 of Jan Buscop by 082 200 8075 vir verdere navrae oor die Lichtenburg-teerprojek of om betrokke te raak by toekomstige projekte.

Soortgelyke plasings