sonpanele
|

Sonkrag-kortings is goed, maar skiet ver te kort om kragkrisis aan te spreek

Die minister van Finansies, Enoch Godongwana, het vandag tydens sy begrotingsrede aangekondig dat die staat individue en ondernemings wil aanspoor om sonkrag te installeer en dat die koste daarvan van jou belasbare inkomste afgetrek kan word vir die 2023/24 boekjaar. Individue sal slegs die bedrae kan aftrek vir die aankoop van sonpanele teen 25% van die koste van panele, maar met ’n R15 000-limiet. Die besonderhede hiervan moet nog bevestig word. Dit blyk dat ondernemings vir die koste van die omvattende kragoplossing – wat panele, batterye en wisselrigters insluit – tot en met 125% van die koste daarvan van hul belasbare inkomste kan aftrek.

Volgens Morné Mostert, AfriForum se bestuurder van Plaaslikeregeringsake, kan hierdie aankondiging goed klink, maar bly die vraag steeds of dit genoeg is om die gaping te vul wat deur Eskom se swak prestasie gelaat word.  “Ondernemings kon in die verlede alreeds 100% van die koste van sonkrag installasies van hul belasbare inkomste aftrek en tot op hede het die vlakke van beurtkrag nogtans toegeneem. Die korting vir individue behoort nie ’n impak op die groter kragkrisis te maak nie, maar ondernemings kan hiermee dalk ten minste verligting kry. Hoewel hierdie ’n stap in die regte rigting is, is dit nie genoegsaam om die leemte in Eskom se prestasie aan te spreek nie.”

Mostert meen verder dat hierdie toelaag ’n reeks onvoorsiene gevolge vir ander sfere van regering kan hê. Hierdie besluit kan nie net ’n groot impak op Eskom se tariewe aansoeke in die toekoms hê nie, maar ook op munisipaliteite se vermoë om dienste te lewer.  “Munisipaliteite maak verkeerdelik gebruik van elektrisiteitsverkope om hul begrotings aan te vul en beoog om ander dienste ook te befonds.  Die munisipaliteite gaan nog verder struikel om hul grondwetlike pligte na te kom.”

Soortgelyke plasings