|

Dié AfriForum-aksiespan binne net drie maande Pretoria se eie “Bomb Squad”

Vier manne. Drie maande. één AfriForum-aksiespan.

Sedert AfriForum se Pretoria-aksiespan, ’n toegewyde span met slegs vier voltydse werknemers, op 15 Mei vanjaar die strate van dié hoofstad ingevaar het, het Pretoria se eie “Bomb Squad” al heel letterlik berge versit. Berge teer, oftewel minstens 1 000 kg daarvan, is al weggewerk om meer as 20 slaggate in dié stad mee op te vul. Berge rommel en tuinvullis is reeds op nagenoeg 20 km se middelmanne op hoofroetes opgeruim. Vier skoonmaakprojekte is al van stapel gestuur by onder meer ’n gewilde inkopiesentrum in Pretoria-Oos en meer as ’n dosyn verkeersirkels en kilometers en kilometers se randstene is binne dié drie maande geverf. Intussen is die span ook hard aan die werk om meer as 80 betonversperrings in Lynnwoodweg te verf en slaggate by die Wingate Park-buiteklub te herstel.

Dié gefokusde aksiespan bestaan uit Danie Visser, Willem van Dyk, Dean Rademeyer en Howard de Lange en is een van die tasbare projekte wat reeds voortgespruit het uit die memorandum van verstandhouding wat AfriForum en die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit in Maart vanjaar aangegaan het. Die behoefte aan groter gemeenskapsbetrokkenheid in die instandhouding en beskerming van infrastruktuur en die lewering van basiese munisipale dienste het in die afgelope paar jaar dringend geword weens toenemende druk op infrastruktuur en dienslewering in dié metro. AfriForum bied dus nou deur middel van dié memorandum hierdie uitdagings meer doeltreffend die hoof – en die resultate is reeds op uiteenlopende plekke in die stad sigbaar.

Hierdie aksiespan is die ekstra oemf, die impakspelers, of in Springbok-rugbyterme, Pretoria se eie ‘Bomb Squad’, wat ingestuur word.

“Hierdie aksiespan is die ekstra oemf, die impakspelers, of in Springbok-rugbyterme, Pretoria se eie ‘Bomb Squad’, wat ingestuur word om tientalle uiteenlopende en uitdagende diensleweringsprobleme wat inwoners in Pretoria ondervind, te takel en binne 48 uur op te klaar,” verduidelik Dewet Ungerer, AfriForum se streekskoördineerder vir die Groter Pretoria-Suid-streek.

Benewens die Pretoria-aksiespan, is daar ook reeds vier AfriForum-buurtspanne in Pretoria wat hulle toespits op algemene en deurlopende projekte in die Moot, Centurion en Pretoria-Noord sowel as 10 AfriForum-takke en 10 buurtwagte in en om die stad waardeur AfriForum-lede aktief werk aan die opheffing en beskerming van die stad en sy inwoners.

“Ons hoop om hierdie aksiespanmodel, wat uiteindelik deur AfriForum-lede self befonds word, verder uit te brei om sodoende gemeenskappe meer en meer te bemagtig om mede-eienaarskap van aspekte soos instandhouding en skoonmaak van openbare ruimtes en gemeenskapsveiligheid te neem. AfriForum se ‘ons sal self-model’ word tasbaar deur hierdie aksiespan, die talle aktiewe buurtwagte wat hul eie buurte daagliks patrolleer en verskeie ander AfriForum-inisiatiewe,” sluit Ungerer af.

Soortgelyke plasings