AfriForum eis duidelikheid oor beloofde amnestie vir diegene met kriminele rekords vir oortredings tydens inperking

Die burgerregteorganisasie AfriForum het vandag ’n brief aan Ronald Lamola, die minister van Justisie en Korrektiewe Dienste, gestuur waarin hy duidelikheid eis oor die regering se planne om amnestie te gee aan burgers wat skuldig bevind is aan die oortreding van inperkingsregulasies tydens die nasionale ramptoestand vir die Covid-19-pandemie.

“AfriForum het ’n aantal klagtes ontvang van mense wat nou negatief deur ’n kriminele rekord geraak word omdat hulle nie die dikwels belaglike inperkingsregulasies gehoorsaam het nie. Onthou dat daar selfs ’n jong pa was wat gearresteer is omdat hy formulemelk vir sy baba gekoop het. Die regering het in die verlede laat deurskemer dat hierdie rekords uitgewis gaan word en ons wil weet wanneer dit gaan gebeur,” sê Jacques Broodryk, AfriForum se woordvoerder vir Gemeenskapsveiligheid.

Tienduisende Suid-Afrikaners sit met kriminele rekords nadat die ramptoestand beëindig is. Die Suid-Afrikaanse Polisiediens het in 2022 gesê meer as 400 000 mense is in hegtenis geneem vir die oortreding van regulasies gedurende die eerste jaar van inperking. Terwyl sommige waarskuwings ontvang het, het diegene wat ’n skulderkenningsboete betaal het kriminele rekords wat in die pad kan staan van toekomstige werksgeleenthede of oorsese reise.

In sy brief vra AfriForum spesifiek of die minister bewus is van enige stappe wat deur die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste gedoen word om ’n vorm van amnestie en/of skrapping te voorsien vir Suid-Afrikaners wat Covid-19-inperkingsregulasies deur wetgewing oortree het. En, of die minister dit tans oorweeg om enige stappe te doen om wetgewing voor te stel of regulasies in te stel om ’n vorm van amnestie en skrapping vir Suid-Afrikaners te voorsien wat Covid-19-inperkingsregulasies oortree het.

Soortgelyke plasings