|

AfriForum-buurtwag trek Potchefstroomse perdediewe vas

AfriForum se Potchefstroom-buurtwag het Saterdag (3 Februarie) in samewerking met Mooirivier Beskerming vyf perdediewe vasgetrek nadat ’n inwoner van Van der Hoffpark hul verdagte optrede opgemerk en vinnig die buurtwag se hulp ontbied het.

Die inwoner het vyf jong seuns met perde waargeneem en dadelik hul bewegings by die AfriForum-buurtwag aangemeld. Patrollielede en Mooirivier Beskerming het oombliklik gereageer en daarin geslaag om twee verdagtes in Mareestraat vas te trek. Drie verdagtes het op die vlug geslaan, maar die einste lede het later ook dié verdagtes aangekeer. Al die perde is veilig teruggevind.

Die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) is na die toneel ontbied en die vyf minderjarige verdagtes is aan hulle oorhandig. Dit het later aan die lig gekom dat die seuns glo deur ’n man in Promosa, wat ’n vermeende perdedief is, betaal is om die perde te steel. Die man is na bewering onlangs uit die gevangenis vrygelaat.

“Dit is bemoedigend om te sien dat die gemeenskap so waaksaam is oor dit wat in hul omgewing gebeur,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder in die Mooirivier-streek. “Hierdie inhegtenisnemings is ook ’n sprekende voorbeeld van die samewerking tussen die Potchefstroom-gemeenskap, die plaaslike AfriForum-buurtwag, veiligheidsmaatskappye soos Mooirivier Beskerming en die SAPD.”

Raak betrokke by AfriForum se Potchefstroom-buurtwag en help om jou omgewing veilig te hou. Kontak Cornelia Blignaut by 073 390 4133 om aan te sluit.

Soortgelyke plasings