|

Delportshoop-tak vier Vrouedag met spesiale geleentheid

Die AfriForum-tak in Delportshoop het Vrouedag gevier op ’n besondere geleentheid in die NG-kerksaal. Talle vroue uit die gemeenskap het as sprekers op hierdie geleentheid opgetree en daar is in besonder gefokus op veiligheid.

Alta Botha, ’n bekende in dié dorp, het gesels oor Delportshoop se ryk geskiedenis. Botha woon al vir 88 jaar in die dorp en woon steeds in haar grootwordhuis. René Ward het die openingsboodskap gelewer.

Lize-Mari Smit, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Karoo het op hierdie geleentheid gesels oor die AfriForum-tak se vordering en hoe die gemeenskap ook kan bydra tot ’n positiewe verskil in die dorp.

Twee beamptes van die plaaslike SAPD het die gehoor toegespreek oor die kritieke kwessie van geweld teen vroue en kinders. Hul omvattende aanbieding het lig gewerp op verskeie vorme van mishandeling, soos seksueel, emosioneel en ekonomies, en verskaf aan die deelnemers noodsaaklike bewustheid en kennis.

Onder leiding van programkoördineerder Christina du Preez is waardevolle veiligheidswenke met die vroue gedeel, wat hulle bemagtig het met praktiese insigte vir hul welstand. Die leersame sessies is aangevul deur genotvolle aktiwiteite, insluitend speletjies soos bingo, balpong, om ’n persoon in toiletpapier toe te draai en die inhoud van ’n bottel te raai.

AfriForum het dank uitgespreek teenoor alle deelnemers en die NG Kerk vir die voorsiening van die lokaal vir die geleentheid. Spesiale dank is gerig aan Annette Doman vir die heerlike eetgoed en geskenke, asook aan Christelle du Preez, Elize Visser, en Christina Du Preez vir hul moeite om die dag te organiseer en by te dra tot die sukses van die dag.

Soortgelyke plasings