|

AfriForum bring PAIA-aansoek aan krisis-geteisterde Transnet oor twyfelagtige kontrakte

Die burgerregteorganisasie AfriForum se regspan het vandag ’n formele aansoek ingevolge die Wet op Bevordering van Inligting (PAIA) op Transnet gebring wat toegang tot inligting versoek om sodoende deursigtigheid by dié staatsonderneming in krisis oor sy omstrede kontrakte, saketransaksies en bedrywighede te bekom. Soos baie staatsondernemings in Suid-Afrika, was Transnet die middelpunt van staatskaping en erge wanbestuur wat ’n geweldige impak op die Suid-Afrikaanse ekonomie gehad het.

As ’n groot en hoogs aktiewe burgerregtewaghond is AfriForum in die perfekte posisie om hierdie inligting vir ontleding te verwerk en verder te versprei aan sy lede en die publiek. Hierdie tipe inligting het ’n vanselfsprekende invloed op die kragtigheid en funksionering van Transnet, wat by implikasie reflekteer op die funksionering van die ekonomie waarin alle burgers ’n aandeel het. Boonop is hierdie inligting in die openbare belang aangesien Transnet deur belastingbetalers gefinansier word.

Die inligting/rekords waarna AfriForum op soek is sluit in:

1.         Alle aktiewe kontrakte wat Transnet of enige van sy filiale met enige logistieke en/of vragmaatskappy gesluit het.

2.         Alle aktiewe kontrakte wat Transnet of enige van sy filiale met enige private sekuriteitsmaatskappy gesluit het.

3.         Hoeveel kriminele klagtes het Transnet die afgelope drie jaar by die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) gelê vir misdade teen Transnet en sy eiendom?

4.         Gedurende die afgelope drie jaar, hoeveel ure is Transnet-hawens gesluit en/of toegemaak en funksioneer dit om watter rede ook al nie?

5.         ’n Lys van alle treinlokomotiewe wat Transnet besit.

6.         ’n Lys van alle treinwaens wat Transnet besit.

7.         ’n Lys van alle spoorwegwaens wat Transnet besit.

8.         ’n Lys van alle motorvoertuie wat Transnet besit.

9.         Watter persentasie van Transnet se spoorlyne is gesluit en word nie gebruik nie? Boonop, hoe definieer Transnet ’n spoorlyn wat “gesluit” is, soos wat daar verwys word in die Transnet Freight Rail 2021-verslag?

“Die deurslaggewende belang van Transnet se saketransaksies en bedrywighede vir die Suid-Afrikaanse ekonomie, tesame met die onlangs gedemonstreerde uiters gruwelike korrupsie wat tot sy ondergang gelei het, is wat AfriForum se eise vir deursigtigheid dryf,” sê Ernst van Zyl, veldtogbeampte vir strategie en inhoud by AfriForum.

“Korrupte transaksies en onwettig toegekende dienskontrakte is sleutelredes vir Transnet se mislukking. Transnet was die primêre terrein van staatskaping, wat verantwoordelik was vir 72,2% van alle kontrakte van ondernemings in staatsbesit (SOE) wat aan staatskaping gekoppel is. Gevalle van vandalisme en sabotasie, asook wanbestuur, onbevoegdheid en gebrek aan aanspreeklikheid en deursigtigheid moet ook hierby gevoeg word. AfriForum doen ons deel om hierdie krisis aan te pak en antwoorde te kry,” sluit Van Zyl af.

Soortgelyke plasings