|

AfriForum se teenboelieveldtogspan besoek Laerskool Saamspan

Die burgerregteorganisasie AfriForum se teenboelieveldtogspan het op 20 en 21 April by die Laerskool Saamspan in Pretoria besoek afgelê. Dié veldtog dien as bewusmaking van afknouery in skole en sluit inligtingsessies met leerders in.

“Dit is vir AfriForum belangrik om saam met leerders, onderwysers en ouers te werk om ’n verskil te maak en afknouery in skole hok te slaan. Veilige skole sorg ook vir ’n veilige gemeenskap, nie net nou nie, maar ook in die toekoms. Elke leerder wat die teenboeliepraatjie bywoon, word toegerus met die nodige kennis en vaardighede om as leier in situasies op te tree waar afknouery plaasvind, met ander woorde om boeliebestand te wees. Kinders word ook geleer om te kan onderskei tussen afknouery en konflik,” sê Leandie Bräsler, AfriForum se bestuurder vir jeugleierskap.

Prof. Elmarie Kritzinger van Unisa het die leerders toegespreek oor kuberafknouery en hoe om tegnologie op ’n veilige manier te gebruik.

“Laerskool Saamspan streef daarna om in woord en daad soos ons slagspreuk, die skool vir gelukkige kinders, te wees. Dit is vir ons belangrik om ’n boelieweek te hou sodat ons ons leerders positief kan beïnvloed deur om ander te behandel soos jy graag behandel wil word. Afknouery kom in verskillende vorme voor en daarom is dit noodsaaklik dat leerders toegerus word met die nodige kennis en vaardighede om ’n boelie uit te ken, maar ook om positief te teenoor hom/haar op te tree. As ons almal saamstaan kan ons die skool vir gelukkige kinders bly,”  sê Danelle Collins, departementshoof van die intersen- en seniorfase by die Laerskool Saamspan.

Vir meer inligting oor AfriForum se teenboelieveldtog besoek gerus www.teenboelie.co.za.

Soortgelyke plasings