|

Adjunkpresident sê oor waterkrisis, terwyl AfriForum dit help pak

Dis bemoedigend om te sien dat die regering eindelik ag slaan op Suid-Afrika se voortslepende waterkrisis deur ’n openbare-private vennootskapsmodel in die watersektor te bewerkstellig. Adjunkpresident Paul Mashatile het Dinsdag dié aankondiging gemaak nadat AfriForum maande gelede ’n skrywe aan hom gestuur het met praktiese stappe om die privaatsektor en die burgerlike samelewing te betrek om watervoorsiening en die bestuur daarvan in gemeenskappe te verbeter. Hoewel daar tot op hede nog geen formele terugvoer van Mashatile ontvang is om ’n vennootskap aan te knoop nie, is AfriForum steeds slaggereed om die waterkrisis saam met die regering die hoof te bied.

AfriForum doen opnuut ’n beroep op die adjunkpresident om die burgerregteorganisasie se aanbod te hersien om as ’n vennoot in die watersektor op te tree sodat dié lewensbelangrike hulpbron volhoubaar bestuur kan word. Die burgerregteorganisasie beywer hom om onder meer die kennistekorte in die bestuur van water- en rioolsuiweringsaanlegte aan te vul deur kundiges saam met sy bestaande vennote op te lei. Dié kundiges beskik oor die nodige vaardighede om die aanlegte doeltreffend te bedryf.

Lambert de Klerk, bestuurder van Omgewingsake by AfriForum, sê dis veral in afgeleë en landelike gemeenskappe waar ’n vennootskap met die regering die grootste impak gaan hê. AfriForum het al by verskeie geleenthede samesprekings met die Ngwathe Plaaslike Munisipaliteit gehou oor Parys, Schonkenville en Tumahole se droewige watersituasie. Dié gebiede gaan gebuk onder ernstige diensleweringsprobleme en sit soms vir dae lank sonder water. Wanneer water wel deur die munisipaliteit voorsien word, is dit dikwels ongeskik vir menslike gebruik.

“Hierdie gebiede sukkel al vir jare lank met hul water, maar met die regering se hulpbronne kan AfriForum eens en vir altyd die ernstige waterprobleme in die omgewing die hoof bied. AfriForum is oortuig daarvan dat as bevoegde plaaslike gemeenskapslede bemagtig word om die munisipaliteit met dienslewering by te staan, kan die waterkwaliteit en doeltreffendheid van dienslewering aansienlik verbeter,” sê De Klerk.

“Die uitdagings wat Suid-Afrika se watersektor in die gesig staar is te groot vir een entiteit om alleen aan te pak. Slegs deur toegewyde samewerking kan ons ’n toekoms bou waar alle Suid-Afrikaners toegang tot skoon en veilige drinkwater het,” sluit De Klerk af.

AfriForum sien uit om terugvoer van die adjunkpresident te ontvang oor die aangeleentheid en saam met ander rolspelers ’n volhoubare en veilige watertoekoms te bou.

Soortgelyke plasings