|

Beboet politieke partye oor verkiesingsplakkate, eis AfriForum

AfriForum doen ’n beroep op die Tshwane Metropolitaanse Munisipaliteit om onmiddellik op te tree en politieke partye, wie se verkiesingsplakkate nou nog aan lamppale hang, te beboet. Twee maande ná die algemene verkiesing op 29 Mei, is daar steeds van dié plakkate wat nie verwyder is nie.

Volgens die Tshwane-metro se verordening vir buitelugadvertensies word alle politieke partye verplig om hul verkiesingsplakkate binne 21 dae ná ’n verkiesing te verwyder. Die versuim om aan hierdie regulasie te voldoen, is nie net ’n oortreding van hierdie verordening nie, maar bied ook ’n geleentheid vir die metro om boetes af te dwing.

Luidens ’n skrywe wat AfriForum op 29 Augustus aan die Tshwane-metro gerig het, kan hierdie boetes ’n beduidende bron van inkomste vir die metro wees, wat met die handhawing van openbare orde en netheid help.

“AfriForum versoek die Tshwane-metro om boetes uit te reik aan die verantwoordelike partye vir elke onwettige plakkaat wat ná die gespesifiseerde tydperk vertoon bly. Die toepassing van die verordening vir buitelugadvertensies is van kardinale belang om die oppergesag van die reg te handhaaf en te verseker dat alle entiteite by die metro se regulasies hou,” sê Sampie Steinberg, AfriForum se hoof vir die noordstreek.

AfriForum is meer as bereid om die Tshwane-metro te help om van die onwettige verkiesingsplakkate in die openbaar ontslae te raak. Volgens die bepalings binne die verordening vir buitelugadvertensies het die metro die gesag om eksterne partye aan te stel om onwettige plakkate op koste van die verantwoordelike partye te verwyder.

“Ons stel voor dat AfriForum aangestel word om te help met die verwydering van hierdie plakkate. Ons is bereid om hierdie taak spoedig en doeltreffend te onderneem en te verseker dat alle plakkate in ooreenstemming met Tshwane-metro se standaarde verwyder word,” sê Dewet Ungerer, AfriForum se distrikskoördineerder vir Groter Pretoria-Suid.

AfriForum is van mening dat hierdie samewerkende benadering nie net die proses om die plakkate te verwyder sal bespoedig nie, maar ook sal dien as ’n sterk afskrikmiddel teen toekomstige nie-nakoming van die verordening vir buitelugadvertensies.

AfriForum is gereed om die besonderhede van hierdie voorgestelde samewerking so spoedig moontlik met die Tshwane-metro te bespreek.

Klik hier om onwettige verkiesingsplakkate te rapporteer.

Raak vandag nog by AfriForum betrokke: Besoek www.wordlid.co.za.

Soortgelyke plasings