|

Lydenburg-tak skenk R4 000 aan sakekamer om met skoonmaakprojekte te help

AfriForum se Lydenburg-tak in Mashishing het weereens hul toewyding aan die skoonmaak en verbetering van dié dorp getoon en R4 000 aan die Lydenburg-sakekamer vir dié taak geskenk. Hierdie skenking is gebruik om verskeie skoonmaakprojekte in Mashishing te ondersteun, wat in Augustus suksesvol afgehandel is.

Die skoonmaakspan het met ywer in Kerkstraat, Brugstraat en by die ingang van die dorp op die Dullstroom-pad gewerk. In Kerkstraat is die sypaadjies skoongemaak, die gras langs die sypaadjies is gesny en altesaam 25 vullissakke is weggery. In Brugstraat is gras gesny en 15 vullissakke verwyder. By die ingang van Mashishing is die gras aan beide kante van die pad gesny en uiteindelik 20 sakke vullis verwyder.

Hierdie inisiatief is deel van AfriForum se voortdurende betrokkenheid by die gemeenskap om Mashishing ’n skoner en netjiese omgewing vir almal te maak wat hier woon en werk.

“Ons is trots om weer met die Lydenburg-sakekamer saam te werk om ’n werklike verskil in ons gemeenskap te maak. Die volgehoue ondersteuning van plaaslike inwoners en ondernemings maak hierdie projekte moontlik,” sê Erich Venter, voorsitter van AfriForum se Lydenburg-tak.

AfriForum moedig die gemeenskap aan om by hierdie inisiatiewe betrokke te raak om Mashishing nog mooier en skoner te maak. Die ondersteuning van die plaaslike gemeenskap is van kardinale belang vir die sukses van hierdie projekte.

Vir verdere inligting of om betrokke te raak by toekomstige projekte, kontak Arlo van Heerden by 066 496 7609.

Soortgelyke plasings