|

AfriForum herstel waterlekke in Dealesville

AfriForum het op 3 Oktober 2021 waterlekke in Dealesville herstel wat veroorsaak het dat water nie na huishoudings versprei kon word nie en inwoners vir 15 dae sonder water gelaat het. ’n Gekwalifiseerde kontrakteur is aangestel om die waterpype te herstel sodat die gemeenskap weer toegang tot lopende water kon hê.

Volgens inwoners het die probleem ontstaan nadat die Tokologo Plaaslike Munisipaliteit ’n pyp op twee verskillende plekke stukkend geslaan het om ’n verstopping op te spoor. Nadat die waterpyp gebreek is, het die munisipaliteit nie die nodige toerusting en onderdele gehad om die pyp weer te herstel nie wat die gemeenskap sonder water gelos het.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se hoof vir die sentraalstreek, kan die munisipaliteit nie net waterpype stukkend maak sonder om die gemeenskap in ag te neem en die probleem wat hulle veroorsaak het, te herstel nie. “Die feit dat die gemeenskap vir 15 dae sonder water moes sit oor ’n probleem wat die munisipaliteit veroorsaak het, weerspieël die munisipaliteit se onvermoë en onbevoegdheid om dienste te lewer. Inwoners betaal maandeliks belasting aan die munisipaliteit om die infrastruktuur in stand te hou, maar dan is hulle die party wat dit beskadig.”

Grobbelaar sê dit is tyd vir die gemeenskap om in te gryp en self te begin doen. “Ons kan nie toelaat dat munisipale verval ons gemeenskappe gyselaar hou nie. As daar probleme is wat die gemeenskap self kan oplos en herstel moet ons daardie gaping vul en dit self doen. AfriForum sal voortgaan en waterlekke in die dorp herstel om te verseker dat die gemeenskap toegang het tot lopende drinkwater.”

AfriForum doen ’n beroep op die inwoners van Dealesville en Boshoff om betrokke te raak sodat dié probleme opgelos word. Sluit vandag nog by AfriForum aan: SMS jou naam na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings