| |

Jong entrepreneurs vereer by Die Korf-première

Jong entrepreneurs van Gauteng is gisteraand tydens die première van ’n nuwe Afrikaanse reeks oor entrepreneurskap vereer vir hul besondere ondernemingsgees. Die Korf is spesiaal vir AfriForumTV vervaardig en is van vandag af beskikbaar op dié gratis aanlyn stromingsdiens.

Die Korf neem kykers op ’n inspirerende reis deur Gauteng, waar hulle die geleentheid kry om van Suid-Afrika se jongste en mees belowende entrepreneurs te ontmoet. Die reeks, wat oor agt episodes strek, word aangebied deur Bernice West en haar broer Renier. Renier is onder meer lid van die musiekgroep Rooksein en mede-eienaar van West Café.

Die reeks fokus op entrepreneurs van laer- en hoërskoolouderdom wat gesels oor hul besigheidsidees en die stappe wat hulle volg om suksesvol te wees. Die jong entrepreneurs se skole word ook besoek en hul onderwysers bied hul perspektiewe op die belangrikheid van entrepreneurskap, terwyl die betrokke ondernemings se kliënte verduidelik waarom hulle verkies om juis dié kleinsakeondernemings te ondersteun.

Leandie Bräsler, AfriForum se gemeenskapsforumkoördineerder en vervaardiger van die reeks, sê: “Die Korf beloof om nie net vermaaklik te wees nie, maar ook om ons jongmense te inspireer en te bemagtig om plaaslike ondernemings te ondersteun. Hierdie jong entrepreneurs is baanbrekers wat wys dat dit moontlik is om ’n suksesvolle onderneming op die been te bring, mits jy in jouself glo en bereid is om hard te werk.”

Bräsler voeg by: “Deur hierdie reeks kry die jong entrepreneurs ’n unieke platform om verskeie sagte vaardighede, soos om voor die kamera te gesels, te ontwikkel. Hulle gaan ook in die komende twee weke radio-onderhoude op Pretoria FM, ons trotse mediavennoot, doen om hul ondernemings te bemark. Hierdie blootstelling sal bydra tot die ontwikkeling van hul leierskapsvaardighede wat hulle goed sal voorberei daarop om in die toekoms die voortou te neem as volwasse sakelui.”

Neem deel aan Die Korf se kykerskompetisie en WEN!

Die Korf bied aan kykers die geleentheid om aan ’n opwindende kompetisie deel te neem. Stem bloot van 6 tot 20 September 2024 vir jou gunsteling-entrepreneur en staan die kans om ’n West Café-geskenkbewys ter waarde van R1 000 op te raap. Besoek www.besigheidsbytjies.co.za om aan dié kompetisie deel te neem. Wenners sal op 30 September 2024 op AfriForum, AfriForum Sakenetwerk, Pretoria FM en West Café se sosialemediaplatforms aangekondig word.

Skakel in op AfriForumTV

Skakel in op AfriForum se gratis aanlyn stromingsdiens, AfriForumTV, om Die Korf te vraatkyk of sommer rustig, episode vir episode, dié inspirerende reis saam met ons land se toekomstige sakeleiers te geniet. Besoek www.afriforumtv.co.za.

Vir verdere inligting oor Die Korf, besoek www.besigheidsbytjies.co.za of volg AfriForum, AfriForum Sakenetwerk, West Café en Pretoria FM op sosiale media.

Soortgelyke plasings