Elektrisiteit
|

Kragkrisis: Rolspelers moet op nasionale adviesforum toegelaat word voor ramptoestand aangekondig word

AfriForum versoek van die Departement van Koöperatiewe Regering en Tradisionele Sake se nasionale rampbestuur om deel van die nasionale rampbestuur se adviesforum te vorm indien  die huidige kragkrisis deur pres. Cyril Ramaphosa as ’n ramptoestand afgekondig word. Ramaphosa het vroeër die week gesê dat ’n ramptoestand, soortgelyk aan die ramptoestand wat weens die Covid-19-pandemie ingestel is, oorweeg word om die land se kragkrisis op te los.

Toegang tot hierdie forum sal verseker dat ander rolspelers soos AfriForum ’n waghondrol vervul in terme van die aanwending van hulpbronne soos addisionele fondse en mannekrag. AfriForum het nasionaal 165 takke en 160 buurtwagte, en beskik ook oor nasionale kommunikasie- en hommeltuignetwerke, kundiges en ander hulpbronne om ’n ramp te kan bestuur.

“Tydens die Covid-19-pandemie en die 2022-vloede in KwaZulu-Natal het die ANC-regering reeds hul onvermoë om ’n ramp na behore te bestuur, bewys. Die grootste probleem was die bestuur van die fondse en die herstelwerk wat nie gedoen is nie as gevolg van bedrog en plundery. Dit is ’n skande dat die regering ’n ramp moet aankondig om dienslewering te takel,” sê Tarien Cooks, rampbestuurspesialis vir AfriForum.

Volgens AfriForum kon die regering die moontlike afkondiging van die ramptoestand weens die kragkrisis deur vroegtydige optrede, verhoed het. Dit is ’n internasionale tendens om risiko-vermindering te doen om sodoende, wanneer ’n ramp sou plaasvind, die impak te versag en die finansiële impak te verminder, maar die ANC-regering het geen planne in plek nie en laat dus al die landsburgers in die steek. Daarom is dit krities dat die regering rolspelers soos AfriForum toelaat om deel te vorm van die adviesforum.

Soortgelyke plasings