|

Adjunkspeaker van Gautengse Wetgewer misluk in aansoek om ontslag in aanranding-saak

Die landdroshof in Johannesburg het vandag Vuyo Mhlakaza-Manamela, adjunkspeaker van die Gautengse Provinsiale Wetgewer, se aansoek om ontslag in ’n saak van aanranding en crimen injuria van die hand gewys. Mhlakaza-Manamela het na bewering in Februarie 2020 ’n Beskermings- en Veiligheidsdienste-beampte, sers. Lizzy Mojapelo, aangerand. Dié beweerde insident het by Mhlakaza-Manamela en haar man, Bhuti Manamela, adjunkminister van Hoër Onderwys, se huis plaasgevind.

Die staat het sy saak afgesluit nadat Mojapelo en vier ander getuies geroep is om te getuig. Die verdediging het na afloop hiervan die aansoek om ontslag ingevolge Artikel 174 van die Strafproseswet ingedien.

Die landdros het vandag in haar uitspraak gesê die essensie van die saak deur die verdediging is dat daar wesenlike verskille in Mojapelo se getuienis was. Advokaat Laurence Hodes het aangevoer dat haar getuienis van só ’n swak gehalte was dat die enigste manier waarop die staat ’n skuldigbevinding teen sy kliënt sou kon verseker, is as Mhlakaza-Manamela haarself sou inkrimineer. Hierdie argument is verwerp. Die landdros het verder gesê daar moet na al die getuienis as ’n geheel gekyk word, wat die getuienis van vier ander staatsgetuies insluit. Sy het die aansoek van die hand gewys.

Barry Bateman, woordvoerder van AfriForum se privaatvervolgingseenheid, het gesê dit is ’n beduidende verwikkeling in die saak. “Ons het volgehou dat Mhlakaza-Manamela ’n saak het om te beantwoord. Ons is nie verbaas nie en ons is bly dat ’n hof met ons saamstem. Ons sien uit daarna om die saak wat deur die verdediging voorgelê word, te hoor.”

Die saak is uitgestel tot 17 November.

AGTERGROND

Mojapelo het AfriForum se privaatvervolgingseenheid genader nadat die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) besluit het om nie die saak te vervolg nie. Die saak is in 2021 teruggetrek nadat senior aanklaers glo aan Mojapelo gesê het die saak sal moeilik vervolg word omdat die verdagte ’n hoëprofielpersoon is.

Die eenheid het namens Mojapela vertoë aan die NVG gerig, en in Junie verlede jaar het die Gautengse Direkteur van Openbare Vervolging die eenheid ingelig dat hy die vroeëre besluit hersien het en die saak teen Mhlakaza-Manamela weer op die rol sal plaas.

Mojapela het getuig dat die beskuldigde in die vroeë oggendure by die huis aangekom het, met twee bottels van wat geblyk het om vodka te wees. Sy het aan die hof verduidelik hoe sy erg deur die beskuldigde aangerand is nadat sy daarvan beskuldig is dat sy aan diens slaap.

’n Mediese ondersoek het bevestig dat Mojapela veelvuldige beserings opgedoen het, en bevestig sy was op daai stadium 11 weke swanger.

Soortgelyke plasings