|

Walker Drive-buurtwag help Sherwood-brande blus

Lede van AfriForum se Walker Drive-buurtwag het onlangs gehelp om veldbrande in die Sherwood-omgewing van Gqeberha te blus. Ongeveer 3 hektaar het gebrand.

Die brande het op 8 Maart begin en is die volgende dag in bedwang gebring, maar op 15 Maart het die brande weer opgevlam. Die buurtwag het via oproepe en WhatsApp-boodskappe inligting oor die brande ontvang. Met behulp van sowat 20 patrolleerders en die plaaslike brandweer kon die groep die vlamme vinnig en doeltreffend blus voordat dit enige ernstige skade aan infrastruktuur kon aanrig.

Hierdie soort gemeenskapsgedrewe aksies is presies wat AfriForum deur sy verskeie inisiatiewe wil bevorder. “Gemeenskappe moet hande vat en saamwerk om te verseker dat hulle eienaarskap van hul eie veiligheid kan neem. Deur gewone landsburgers te bemagtig om ’n aktiewe rol te speel om hulself en hul woonbuurte te beskerm, hoop AfriForum om ’n veiliger en meer veerkragtige Suid-Afrika te skep,” sê Wikus van der Walt, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Oos-Kaap.

Brandbestryding is natuurlik net een van die vele maniere waarop gemeenskapslede kan saamwerk om hul veiligheid en sekuriteit te verbeter. Buurtwagte, soos die een in Gqeberha, is ook waardevol om ’n oog te hou vir verdagte aktiwiteite, om misdade by die owerhede aan te meld en in die algemeen ’n gevoel van solidariteit en wedersydse ondersteuning onder inwoners te kweek.

Sluit vandag aan by jou plaaslike AfriForum-buurtwag: Besoek www.wordlid.co.za.  

Soortgelyke plasings