Adv. Gerrie Nel bied teenkorrupsie-opleiding in Nylstroom aan


AfriForum se Knak Korrupsie-opleidingsveldtog is op 10 April in Nylstroom aangebied. Dít volg nadat die burgerregtewaghond se teenkorrupsie-eenheid ook na plaaslikeregeringsvlak uitgebrei is om korrupsie wat op hierdie vlak plaasvind met behulp van gemeenskapslede te ontbloot.
Adv. Gerrie Nel, hoof van AfriForum se privaat vervolgingseenheid, en Wico Swanepoel, AfriForum se regsadviseur vir plaaslike korrupsie, het die gemeenskap van Nylstroom en omliggende gebiede toegespreek.

“Korrupsie raak almal in die gemeenskap en die bekamping daarvan begin by elke individu. Enigiemand met inligting oor korrupte optrede het ’n verantwoordelikheid om ’n klagte by die SAPD in te dien en sodoende die spreekwoordelike fluitjie te blaas. AfriForum is daartoe verbind om fluitjieblasers wat met korrupsie-inligting vorendag kom, te beskerm,” sê Swanepoel.

Adv. Nel het prakties verduidelik wat korrupsie behels en hoe dit aan die kaak gestel kan word. Daar word onder meer gefokus op die rol wat faktore soos goeie ondersoekwerk, gewone en deskundige getuies, dokumentasie, fluitjieblasers en tegnologie (soos selfone en rekenaars) in die proses speel om korrupsie te ondersoek en uiteindelik te ontbloot.

Volgens Jaco Grobbelaar, AfriForum se distrikskoördineerder vir Limpopo, wil die burgerregte-organisasie gemeenskappe help om teen korrupsie op te staan. “Korrupsie in ons plaaslike munisipaliteite is ons mense se geld wat gemors word. Gemeenskappe wat saamwerk om korrupsie reeds op plaaslike vlak uit te wis, kan die agteruitgang van dorpe verhoed en ’n sterk boodskap stuur dat korrupsie nie geduld sal word nie.”

Is jy bewus van korrupsie in jou dorp, maar vrees viktimisasie? AfriForum bied beskerming aan fluitjieblasers. SMS jou dorp se naam na 32782 (R1) om ’n verskil te maak.

Soortgelyke plasings