AfriForum bedank lede, medewerkers vir steun in skolesaak wat godsdiensvryheid beskerm


AfriForum bedank alle lede en medewerkers vir hul ondersteuning in die sogenaamde skolegodsdienssaak.
Die saak tussen Laerskool Randhart, Laerskool Baanbreker, Laerskool Garsfontein, Hoërskool Linden, Hoërskool Oudtshoorn en Oudtshoorn Gimnasium, en die Organisasie vir Godsdiensonderrig en Demokrasie wat in Mei 2017 in die Suid-Gautengse hoë hof aangehoor is, het gevolg nadat dié skole aan die einde van 2014 deur dié fundamentalistiese, ateïstiese organisasie weens hulle godsdienstige etos voor die hof gedaag is. FEDSAS het die skole bygestaan en AfriForum het die regskostes gedek.
In ’n skrywe vandag het die skole se regsverteenwoordigers aangedui dat hul kliënte nie om verlof tot appèl of enige verdere regsproses met betrekking tot die saak gaan aansoek doen nie. In die uitspraak wat op 28 Junie 2017 gelewer is, het die skole – wat nes AfriForum godsdiensvryheid voorstaan –  ’n oortuigende oorwinning behaal. Danksy AfriForum-lede se bydraes en medewerkers soos Hykie Berg, ds. Henk Stavast en Derick Francis se insette (met onderskeidelik fondsinsamelingsaksies en ’n bewusmakingsfietstoer waartydens meer as 6 000 km deur die land afgelê is), kon ’n uiters bekwame regspan aangestel word om die beste saak moontlik te argumenteer en godsdiensvryheid in skole suksesvol te beskerm.
Die opponente het wesenlik misluk in die regshulp wat hulle aangevra het, insluitend dat godsdiensoptredes ongrondwetlike verklaar word, nasionale beleid tot wetgewende status verhef word en 71 interdikte teen die skole ingestel word. Die regsproses het die organisasie se onverdraagsaamheid teenoor enige ander geloofstandpunte ontmasker.
Die hofuitspraak het daarteenoor bevestig dat godsdiensbeoefening nie ongrondwetlik is nie, maar nie uitsluitend mag wees nie. Dit is dan ook ’n riglyn vir enige skool wat in die toekoms deur hierdie onverdraagsame groep geteister mag word.

Soortgelyke plasings