|

AfriForum begin petisie vir spoedhobbels voor Hoërskool Douglas 

Die Douglas-gemeenskap deel een gemeenskaplike doelwit: Om die veiligheid van die plaaslike kinders te verseker, maar ongelukkig word hierdie doelwit belemmer deur ’n gebrek aan optrede van die plaaslike owerhede. Daar moet dringend spoedhobbels en ’n verkeerskruising of verkeerseiland in Bowkerstraat voor die Hoërskool Douglas opgerig word, omdat motoriste nie by die spoedbeperking hou nie en daar al telkemale motorongelukke daar plaasgevind het. Die gemeenskap het al verskeie kere na die owerhede uitgereik en versoeke daarvoor ingedien, maar dit bly op dowe ore val. Daarom het die AfriForum-tak in Douglas ’n petisie begin om die Siyancuma Plaaslike Munisipaliteit te maan om hierdie veiilgheidsmeganismes voor die hoërskool aan te bring.

“Die veiligheid van ons kinders is ons topprioriteit. As ouers en gemeenskapslede het ons ’n verantwoordelikheid om te verseker dat ons kinders veilig is wanneer hulle ons huise verlaat. Met die gebrek aan spoedhobbels en ’n verkeerskruising of verkeerseiland voor die Hoërskool Douglas, word ons kinders se veiligheid egter in die gedrang gebring. Dit is onaanvaarbaar en moet dadelik aandag geniet,” sê Hilton Megaw, voorsitter van AfriForum se Douglas-tak. 

“Elke dag wat verbygaan sonder hierdie veiligheidsmaatreëls in plek stel ons kinders in gevaar. Dit is tyd dat ons ons stemme laat hoor en optrede van ons plaaslike owerhede eis. Ons moet as ’n gemeenskap saamstaan en wys dat ons nie sal terugstaan voordat ons kinders se veiligheid gewaarborg is nie,” sluit Megaw af. 

Wys jou ondersteuning deur die petisie hier te teken. 

Soortgelyke plasings