Elektrisiteit
| |

AfriForum se Phalaborwa-tak beteken aanmaning aan NERSA

AfriForum se Phalaborwa-tak het vandag (16 Februarie) ’n finale aanmaning aan die Nasionale Energiereguleerder van Suid-Afrika (NERSA) beteken oor die ernstige en voortslepende probleme rakende elektrisiteitsvoorsiening in die Ba-Phalaborwa Plaaslike Munisipaliteit. Dié aanmaning is in samewerking met Lets Change Ba-Phalaborwa (LCBP) beteken. Dit volg in reaksie op die voortdurende kragonderbrekings wat inwoners van Phalaborwa weens die swak instandhouding van infrastruktuur ervaar.

Volgens AfriForum is die aanmaning aan NERSA beteken omdat die reguleerder ’n wetlike verpligting ingevolge die Elektrisiteitsreguleringswet (Wet 4 van 2006) het om oor die elektrisiteitsektor toesig te hou. NERSA moet dus die nakoming van die voorgeskrewe standaarde afdwing en toepaslike stappe doen in die geval van nienakoming.

LCBP het NERSA  reeds by verskeie geleenthede genader om by die munisipaliteit in te gryp, maar die energiereguleerder het versuim om die probleem die hoof te bied. AfriForum benadruk dat regstappe nou onafwendbaar is en dat NERSA gedwing moet word om stappe te doen sodat die Ba-Phalaborwa Plaaslike Munisipaliteit sy wetlike verpligtinge teenoor verbruikers nakom.

“Die munisipaliteit het ’n verpligting om basiese dienste aan inwoners te verskaf en dit is al wat die inwoners van Phalaborwa soek,” sê Hendrik Kotze, AfriForum se koördineerder vir die Waterberg-distrik.

AfriForum en LCBP eis onder meer beter en deursigtige kommunikasie oor kragvoorsiening in die munisipaliteit, ’n doeltreffende stelsel waardeur elektrisiteitsfoute en -onderbrekings aangemeld kan word, en dat kragonderbrekings deeglik en binne ’n billike tyd herstel word.

NERSA word ook vereis om ’n tribunaal saam te stel om die munisipaliteit se nienakoming van die voorgeskrewe standaarde te ondersoek, die munisipaliteit daarvoor te penaliseer en te dwing om veranderinge aan te bring om die voortdurende kragvoorsieningsprobleme te pak.

NERSA het tot einde Februarie geleentheid om op die aanmaning te reageer.

“Die inwoners van Phalaborwa verdien beter, en ons sal nie rus totdat ons dit kry nie,” sê Kotze.

Die burgerregteorganisasie is vasberade om in oorleg met ander rolspelers die belange van die gemeenskap te beskerm en te verseker dat behoorlike elektrisiteitsvoorsiening in Phalaborwa gehandhaaf word.

Soortgelyke plasings