AfriForum-begraafplaasoudit: Klerksdorp toon agteruitgang


Die burgerregte-organisasie AfriForum het op 15 Augustus 2017 ondersoek ingestel na die toestand van die begraafplaas in Klerksdorp en vasgestel dat dit in ’n haglike toestand is.
Hoewel die City of Matlosana Plaaslike Munisipaliteit vanjaar R700 000 vir die instandhouding van die begraafplaas begroot het, blyk dit dat hierdie bedrag nie korrek aangewend word nie.
AfriForum het ’n skrywe aan T.S.R Nkhumise, die munisipale bestuurder, gerig en versoek dat ’n skoonmaakaksie geloods word. AfriForum het ook te kenne gegee dat die organisasie bereid is om by hierdie aksie aan te sluit sodat die gemeenskap weer in ’n skoon en veilige omgewing aan hul afgestorwe geliefdes respek kan betoon.

“Die onderhoud en bestuur van begraafplase is ’n belangrike grondwetlike funksie van die munisipaliteit. Die begraafplaas in Klerksdorp het ook ryk geskiedkundige waarde, aangesien talle konsentrasiekampslagoffers van die Anglo-Boereoorlog hier begrawe is. Ongelukkig word die terrein glad nie meer versorg nie; die gras is só lank dat die grafte op plekke skaars gesien kan word,” sê Stephen Nel, AfriForum se assistentkoördineerder vir die sentraalstreek.

AfriForum versoek die gemeenskap om die plaaslike AfriForum-tak te ondersteun deur by die inisiatief betrokke te raak.

Soortgelyke plasings