|

Klerksdorp-tak bevorder padveiligheid met #MyWoonbuurt-projek in Doringkruin

Die AfriForum-tak in Klerksdorp, in samewerking met die Doringkruin-buurtwag, vorder fluks met die projek om die woonbuurt weer in ’n spogbuurt te omskep. Verlede week is 39 sakke teer gebruik om die slaggate in Murantiweg te herstel vanaf Buffeldoornweg tot by Boekenhoutweg. Sewe stoptekens is by die Boekenhout- en Muranti-kruising en die Muranti- en Apiesdoring-kruising aangebring. Daar word beplan om nog drie verkeerstekens in die buurt op te rig om padveiligheid te bevorder.

Die Klerksdorp-tak en die Doringkruin-buurtwag het reeds gedurende 2022 begin beheer geneem van die onderhoud in Murantiweg. Gedurende hierdie tydperk is die sypaadjies se gras drie keer gesny, straatbome is gesnoei, rommel is verwyder en die padgeute is skoongemaak. Verder is gevaarlike slaggate opgevul soos dit ontstaan en verkeerstekens is in Murantiweg aangebring. Die geldwaarde van hierdie onderhoud, skenkings uitgesluit, was R24 000 vir 2022.

Die vernuwing van buurte is ’n waardevolle inisiatief om die lewenskwaliteit in ’n gegewe gebied te verbeter. Hierdie inisiatief sal eiendomswaardes laat toeneem, misdaad hokslaan en inwoners sal voel dat hulle meer in hul gemeenskap wil belê. Met die regte toewyding van inwoners, plaaslike ondernemings en organisasies, kan programme om buurte te vernuwe ’n drastiese positiewe impak op enige area hê.

“Inwoners moenie die belangrikheid van kollektiewe optrede miskyk wanneer dit by die vernuwing van buurte kom nie; inisiatiewe soos gereelde skoonmaakprojekte help burgers om aktiwiteite en geleenthede binne hul eie gemeenskappe te organiseer. Samewerking soos hierdie moedig betrokkenheid tussen bure aan wat help om misdaad te voorkom, gemeenskaplike probleemoplossing vergemaklik en sterker verhoudings tussen bure bou. Dit maak ook voorsiening vir nadere monitering van verdagte optrede van misdadigers in hul buurt,” sê Frans Roos, voorsitter van die AfriForum-tak in Klerksdorp.

“Ek is oortuig daarvan dat die enigste manier om toestande in die woonbuurte te verbeter, bewerkstellig sal word deur die samewerking van die inwoners. Doringkruin is reeds ’n sprekende voorbeeld daarvan. Ek hoop werklik dat die ander woonbuurte in Klerksdorp met die AfriForum-tak sal kontak maak, sodat soortgelyke projekte oral in die stad geloods kan word,” sê Alta Pretorius, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Mooirivier.

Inwoners wat wil deelneem en bydra of soortgelyke #MyWoonbuurt-projeke in hulle woongebiede wil organiseer, kan Roos kontak by 083 378 8826.

Word deel van die oplossing: SMS “Klerksdorp” na 45344 (R1) of klik hier om aan te sluit.

Soortgelyke plasings