|

AfriForum behaal oorwinning in hof vir kragvoorsiening aan Zeerust-gemeenskap

AfriForum het op 16 November 2022 ’n oorwinning in die Hooggeregshof in Pretoria behaal teen Eskom. Dit volg nadat Eskom vanaf 30 Julie 2020 tot 6 Augustus 2020 bykomende beurtkrag in die Zeerust-gebied toegepas het weens die Ramotshere Moiloa Plaaslike Munisipaliteit se agterstallige rekening. Die onderbrekings het die gebied sonder krag gelaat vir ongeveer ses ure per dag. Die kragvoorsiening is weer op 7 Augustus 2020 ten volle herstel nadat ’n gedeelte van die skuld aan Eskom betaal is.

AfriForum het egter voortgegaan met regstappe omdat die betaling van die uitstaande skuld nogsteeds agterstallig is. Die risiko bestaan dus steeds dat Eskom weer die bykomende beurtkrag kan toepas en dit is daarom belangrik om ’n hofbevel te kry wat dit verbied.

AfriForum het onder meer in die hofstukke geëis dat:

  • die besluit van Eskom om die kragvoorsiening na die Ramotshere Moiloa Plaaslike Munisipaliteit op 18 Augustus 2020, as ongrondwetlik en onwettig verklaar moet word;
  • die besluit hersien en ter syde gestel moet word;
  • Eskom die regskoste wat AfriForum aangegaan het vir die aansoek moet betaal; en
  • verdere en alternatiewe verlof aan AfriForum toegestaan word.

Die hof het met hierdie uitspraak bevind dat Eskom nie hul verpligtinge kragtens wetgewing nagekom het nie.

“Die kragonderbrekings het groot probleme in Zeerust veroorsaak (alhoewel meeste verbruikers hul elektrisiteitsrekeninge getrou aan die munisipaliteit betaal), omdat baie huishoudings en ondernemings ook nie toegang tot water gehad het tydens die onderbrekings nie. Verder het die onderbrekings ook ’n groot veiligheidsrisiko veroorsaak, omdat veiligheidstoestelle soos elektriese heinings ook nie gewerk het nie,” sê Petrus Coetzee, raadgewer vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum.

“Geskille soos hierdie tussen staatsorgane moet nie ’n negatiewe impak op die algemene publiek hê nie. Ons is daarom baie bly oor die uitkoms van die hofsaak en is dankbaar dat ons die gemeenskap kan help. Ons kan nie toelaat dat hierdie geskille tussen staatsorgane mense se basiese regte skend nie,” sê Morné Mostert, bestuurder vir Plaaslikeregeringsake by AfriForum.

AfriForum wil graag ’n groter verskil in die gemeenskap maak en moedig inwoners aan om betrokke te raak. Word deel van die oplossing: SMS “Krag” na 45344 (R1).

Soortgelyke plasings