|

AfriForum bekommerd oor Dawid Kruiper-munisipaliteit se beplande besoek aan China

AfriForum het op 28 Junie ’n dringende brief aan die Dawid Kruiper Plaaslike Munisipaliteit gerig nadat dit aan die lig gekom het dat dié munisipaliteit beplan om ’n delegasie na China te stuur om verteenwoordigers van Changsha te ontmoet.

Dit blyk dat befondsing vir die aangeleentheid reeds goedgekeur is alhoewel nog geen kosteberaming bereken of beskikbaar gestel is nie. Soos verstaan word, is die doel van die besoek om potensiële beleggingsmoontlikhede vir die Chinese in die Dawid Kruiper-munisipaliteit en om die moontlikheid van kulturele uitruilings te ondersoek.

In die brief versoek AfriForum dat die munisipaliteit duidelikheid verskaf oor die totale kostes van die reis, die tipe beleggingsmoontlikhede wat oorweeg en bespreek gaan word asook ’n beskrywing en besonderhede oor die beoogde kulturele uitruilings.

AfriForum het verder die haglike toestand van Upington se rioolinfrastruktuur benadruk en dit aan die munisipaliteit gestel dat die fondse eerder benut kan word om dringende kwessies rondom dienslewering aan te spreek.

“Ons is van mening dat die aangaan van hierdie groot uitgawe verregaande is, veral as mens die huidige ekonomiese toestand van die land, spesifiek dié van die Dawid Kruiper-munisipaliteit, in ag neem,” sê Werner Strauss, AfriForum se distrikskoördineerder vir die Kalahari.

Die Dawid Kruiper-munisipaliteit het sewe dae om op AfriForum se brief te reageer.

Soortgelyke plasings