|

Richardsbaai-tak vra uMhlathuze om aandag te gee aan DBV-rioolprobleme

Die AfriForum-tak in Richardsbaai het op 24 Mei ’n brief aan Nkosenye Zulu, waarnemende munisipale bestuurder van die uMhlathuze Plaaslike Munisipaliteit, gestuur en gevra vir ’n aksieplan om aandag te skenk aan die rioolprobleem by die plaaslike dierebeskermingsvereniging (DBV). Dit volg nadat die tak talle klagtes ontvang het van rou riool wat ná reënbuie by die mangate op die DBV se perseel uitvloei.

“Dit wil voorkom of daar tydens reënbuie stormwater in die rioolsisteem beland wat veroorsaak dat riool by die mangate by die DBV uitvloei. Ons kan dit nie aanvaar nie en plaaslike owerhede moet dringend optree,” sê Ian Rapson, AfriForum se takvoorsitter vir Richardsbaai.

“Die diere moes tydelik na ander hokke geskuif word om hulle teen hierdie haglike toestande te beskerm,” het hy bygevoeg.

“Ons sien daagliks dat rioolprobleme handuitruk in Suid-Afrika. Hierdie probleem hou ’n geweldige gesondheidsrisiko in en dis asof ons op ’n tydbom sit wat enige oomblik ernstige siektes tot volg kan hê,” sê Eugene van Aswegen, distrikskoördineerder vir KwaZulu-Natal.

Die Richardsbaai-tak nooi die gemeenskap uit om aan te sluit by hul Facebook-blad en deel te neem aan verdere projekte in hierdie dorp. SMS “Richardsbaai” na 45267 (R1) om by dié AfriForum-tak betrokke te raak om sodoende ’n daadwerklike verskil te maak.

Soortgelyke plasings