|

AfriForum bekommerd oor trae reaksie op waterslaaikrisis

Die waterslaai wat die Vaalrivierstelsel toegroei hou ’n ernstige bedreiging in vir die ekologiese balans van die rivier. AfriForum doen ’n beroep op die Departement van Water en Sanitasie asook die Departement van Bosbou, Visserye en die Omgewing om onmiddellik aksie te neem.

In ’n brief aan dié departemente waarsku AfriForum dat die ongekontroleerde verspreiding van waterslaai verskeie nadelige gevolge inhou vir die watergehalte, biodiversiteit en die algehele gesondheid van die akwatiese ekostelsel. “Die Vaalrivierstelsel is lewensbelangrik vir miljoene mense en as die integriteit van hierdie stelsel belemmer word kan dit katastrofies wees vir ons,” sê Lambert de Klerk, bestuurder van Omgewingsake by AfriForum.

“Dit is kommerwekkend dat nie een van hierdie departemente al amptelik iets gesê het oor die waterslaai of eens laat blyk het dat daar ’n aksieplan voorgestel gaan word om hierdie probleem op te los nie. Ons sien hoe mense wat langs die rivier woon al self begin het om die waterslaai te verwyder aangesien daar nog nie ’n woord van die regering se kant af gerep is oor dié kwessie nie,” voeg De Klerk by.

Dié organisasie sê dat daar onmiddellik en doeltreffend opgetree moet word om hierdie waterslaaiplaag uit die weg te ruim. “Daar moet ’n gesamentlike poging tussen die regering, omgewingsorganisasies en plaaslike gemeenskappe wees om doeltreffende beheermaatreëls te implementeer.”

AfriForum is gereed om onafhanklike stappe te doen om hierdie kwessie op te los sou die departemente nie vinnig en ingrypend optree nie. Die organisasie versoek inligting oor die maatreëls wat die betrokke departemente in plek gaan sit om nie net hierdie kwessie op te los nie, maar om ook die langtermyn gesondheid van die Vaalrivierstelsel te verseker.

“Ons glo dat die bewaring van ons natuurlike hulpbronne ’n gesamentlike verantwoordelik is en ons verbind onsself daartoe om die gesondheid en volhoubaarheid van die Vaalrivierstelsel te verseker. Ons is bereid om betrokke te raak en deel te neem aan inisiatiewe wat die volhoubare bestuur van ons waterbronne oor die algemeen sal bevorder,” sluit De Klerk af.

Soortgelyke plasings