|

Maak gereed vir die beheerliggaamverkiesings van 2024

Beheerliggame is al beskryf as die senuweestelsels van skole, wat treffend opsom hoe belangrik die rol is wat hulle vertolk om by te dra tot die voorsiening van gehalte-onderwys aan ons kinders.

Waar ’n betrokke, kundige beheerliggaam by ’n skool gevestig is, is dit duidelik sigbaar. Die terrein en strukture lyk goed, die skool presteer op talle terreine en daar is ’n lae omset in onderwyspersoneel.

Die doel van hierdie organisasies is om die skoolgemeenskap se belange te verteenwoordig. Dit moet omsien na die visie, etos en strategiese rigting wat die skool kies en sorg dat al die betrokkenes inkoop daarin.

Verder moet hulle die uitvoerende leiers van die skool verantwoordelik hou vir die opvoedkundige prestasie van die skool, personeel en leerlinge. Hulle moet die skool se taal-, godsdiens-, toelatings-, dissipline- en ander beleide opstel, gereeld hersien en handhaaf.

Tans is onderwyspersoneel en veral hoofde uitgelewer aan departementele personeel wat dikwels vyandig is en politieke agendas dryf. In hierdie onaangename omstandighede is die  beheerliggaam se ondersteuning aan skoolhoofde en personeel van sleutelbelang. Instellings soos AfriForum en die Solidariteit Skoleondersteuningsentrum was byvoorbeeld al dikwels getuie van hoofde wat deur amptenare geboelie is omdat hulle hulle skole se Afrikaanse taalbeleid beskerm het. Sterk beheerliggame was dan deurslaggewend om die taalbeleid en hoofde te beskerm.

Die Konstitusionele Hof het al by verskeie geleenthede die grootste waardering uitgespreek vir die rol wat beheerliggame speel om die driekantige vennootskap van owerhede, ouers en onderwysers saam te bind. In die uitspraak in die saak oor die taalbeleid van Hoërskool Ermelo wat in 2010 deur dié hof aangehoor is, is verklaar:

A governing body is democratically composed and intended to function in a democratic manner. Its primary function is to look after the interests of the school and its learners. It is meant to be a beacon of grassroots democracy in the local affairs of the school. Ordinarily the representatives are parents of learners and of the local community and are better qualified to determine the medium best suited to impart education in all the formative utilitarian cultural goodness that comes with it.

In sulke gevalle is dit die plig van ouers om ’n klag by die departement te lê. Wetgewing maak voorsiening daarvoor dat sulke wangedrag vervolg, en die beheerliggaam vervang word.

Soos in die uitspraak van die Konstitusionele Hof beklemtoon is, is beheerliggame demokraties verkose liggame. In Maart vanjaar is dit andermaal tyd om landswyd weer nuwe beheerliggame te verkies.

Omdat die beheerliggame wat vanjaar die tuig opneem, vir die volgende drie jaar so ’n deurslaggewende rol in die skole gaan vertolk, is dit noodsaaklik dat ouers nou reeds seker maak dat al hulle nodige persoonlike besonderhede by hulle kinders se skole op datum is, sodat hulle stemgeregtig sal wees.

Verder moet hulle besluit of hulle hulleself verkiesbaar gaan stel. Skole het behoefte aan bepaalde kundighede, insluitend bemarkingsvaardighede, finansiële bestuurs- en regskennis. Al is ’n ouer nie self as kandidaat beskikbaar nie, moet hy of sy na die kandidate se ervaring in hierdie rigtings kyk. Hulle oortuigings, veral wat kulturele sake soos geloof, taal en waardes aanbetref, is net so belangrik – dit moet in pas wees met die skool se verlangde etos.

Sodra die skole inligting oor die verkiesingsdatums en stemprosedures bekendmaak, moet ouers gereed wees om te gaan stem.

Die geleentheid om op hierdie wyse by te dra tot die sukses van hulle kinders se skoolloopbane, mag nie misgeloop word nie.

Soortgelyke plasings