| |

AfriForum: Bela-Bela-munisipale bestuurder kan nie aanhou weghardloop van probleme

’n Afvaardiging van die burgerregteorganisasie AfriForum sou op 14 September 2021 met Jamela Selapyane, munisipale bestuurder van die Bela-Bela Plaaslike Munisipaliteit, vergader het, maar dié vergadering is enkele minute voordat dit moes begin deur Selapyane gekanselleer. Die doel van dié vergadering was juis om samewerking te bevorder veral rakende die dorp se rioolaanleg.

Volgens Piet Botha, ondervoorsitter van AfriForum se Warmbad-tak, veroorsaak Selapyane se optrede ’n vyandskap tussen haar en die gemeenskap. “Volgens die munisipale bestuurder moes sy die vergadering dringend kanselleer omdat ’n ander organisasie ’n strafregtelike klag teen haar gelê het en sy dus nie met ons kan ontmoet nie. Sy kan egter nie aanhou weghardloop van haar verpligtinge teenoor die gemeenskap nie.”

AfriForum wou tydens hierdie vergadering samewerking met die munisipaliteit bewerkstellig om die dorp se rioolwerke reg te ruk. Dit volg nadat die organisasie vroeër vanjaar as deel van die nasionale blou-en-groendruppelprojek watermonsters by die rioolaanleg geneem het wat getoon het dat die rioolwater nie aan die nasionale waterstandaarde voldoen nie. Die organisasie het ook kennis geneem van die tenderproses rakende die opgradering van die rioolwerke wat vandeesweek gesluit het.

“AfriForum sal voortgaan om druk toe te pas en die tenderdokumentasie aanvra om te verseker dat daar aan die munisipale wetgewing voldoen. Ons sal ook die inhoud van die tenders oorweeg. Dit is baie duidelik dat die munisipaliteit nie hierdie inligting aan die publiek sal oorhandig nie en daarom sal ons die PAIA-proses volg om die inligting te bekom. Indien die munisipaliteit nie daaraan gehoor gee nie, sal ons geen ander keuse hê as om die hof te nader nie,” sê Corné Cronjé, AfriForum se bestuurder vir Gemeenskapstrukture.

Lambert de Klerk, AfriForum se bestuurder van Omgewingsake, sê munisipaliteite is besig om hul grondwetlike pligte te verontagsaam en behoort saam met gemeenskappe te werk. “Dit is baie duidelik dat politieke inmengery dienslewering knel.”

Soortgelyke plasings