|

AfriForum se Mosselbaai-tak verfraai parkie deur bome te plant

Die AfriForum-tak in Mosselbaai het op 11 September 2021 17 kannabasbome (Dais cotinifolia) in Ysterhoutsingelpark, Heiderand, geplant. Dié tak plant jaarliks bome ter viering van Nasionale Boomplantmaand wat AfriForum op ’n nasionale grondslag ondersteun. Die Mosselbaai Plaaslike Munisipaliteit het ook gehelp deur die gate voor te berei waarin die bome geplant is.

Benewens dié bome wat geplant is, het die tak ook ’n boom aan die volgende skole geskenk wat die junior stadsraad gaan plant as deel van hulle boomplantinisiatiewe: Curro Privaatskool, Hoërskool Punt, Hoërskool Sao Bras, Hillcrest Hoërskool, Indwe Secondary School en Groot Brakrivier Secondary School. Die tak het dus altesaam 23 bome geskenk.

“Die AfriForum-tak heg baie waarde aan ons omgewing en het ’n verantwoordelikheid om ’n beter woonplek vir ons kinders na te laat. Ons wil met projekte soos dié ’n bewustheid en kultuur van bewaar en verbeter, onder veral ons kinders, vestig,” sê Charl Moller, voorsitter van die omgewingsakeportefeulje van AfriForum se Mosselbaai-tak.

Raak vandag nog deel van AfriForum se Mosselbaai-tak: SMS “Mosselbaai” na 45350 (R1).

Soortgelyke plasings