|

AfriForum Jeug borg bedrag vir herstel van Broekhuizen-graf

AfriForum Jeug het onlangs ’n uitdaging van Quentin Meyer aanvaar om hom te help om ’n erfenis projek aan te pak. AfriForum Jeug het ’n bedrag van R 5 500 aan Meyer geskenk om die grafte van dr. Herman Dirk van Broekhuizen en Elsje Francina van Broekhuizen in die Rebeccastraat-begraafplaas in Pretoria-Wes te herstel.

Dr. Herman Dirk van Broekhuizen was een van die vroegste spelers in die Suid-Afrikaanse nasionale rugbyspan. Elsje Francina van Broekhuizen (née Eloff), sy vrou, was die kleindogter van Paul Kruger. Lede van die Broekhuizen-familie, Herman Dirk Broekhuizen en sy vrou Adri Broekhuizen, was ook in November teenwoordig toe die herstelde grafte ingehuldig is.

Meyer het sy dank aan die volgende organisasies en individue uitgespreek wat gehelp het om hierdie projek ’n sukses te maak: AfriForum Jeug, FAK, We Care Grave Maintenance, Marco Nel van Eggsa Grafte en die fotograaf Ruan Tennant.

“AfriForum Jeug glo in ons erfenis en dat ons erfenis beskerm en bewaar moet word sodat ons dit aan ons nageslagte kan oorlaat. Ons kan nie weet waarheen ons op pad is as ons nie eens weet waar ons vandaan kom nie,” sê Petri van der Walt, nasionale koördineerder vir AfriForum Jeug se dorpstrukture.

“Ek sien uit daarna om in die toekoms weer saam met AfriForum Jeug te werk sodat ons erfenis beskerm kan word en behoue kan bly,” sê Meyer.

Raak vandag nog by die jeugstrukture in jou gemeenskap betrokke en help om ’n verskil te maak. Stuur ’n epos na petri.vanderwalt@afriforum.co.za  of sms ‘jeug’ na 32687 (R1 per SMS).

Soortgelyke plasings