|

Taal Tel – Die waarde van voorskoolse moedertaalonderrig

Die jaar vlieg verby en ouers begin nou besluit oor die skole, kleuterskole en ander onderriginstellings wat hulle kinders in 2024 gaan bywoon.

AfriForum beklemtoon deurgaans die waarde van moedertaalonderrig vir leerders in laer- en hoërskole, asook vir naskoolse studente, maar wat van voorskoolse onderrig? Dit was dus goeie nuus om te verneem dat die kinderontwikkelingskundige, dr. Wietske Boon, onlangs ’n studie voltooi het wat juis hieraan aandag gee. Alana Bailey, hoof van kultuursake by AfriForum, het met haar oor haar bevindinge gesels.

Jy het pas ’n PhD in vroeë kinderonderwys behaal. Wat was die onderwerp van jou studie?

In kort is die studie, Moedertaal-, dubbelmedium- en tweedetaalonderrig: ’n Verkennend-vergelykende studie van driejariges se sosiale en emosionele ontwikkeling, uitgevoer om vas te stel hoe driejariges se sosiale en emosionele ontwikkeling presenteer binne die verskillende taal-van-onderrig omgewings.

Waarom het jy op die tema besluit?

In die praktyk fokus ek veral op kinders se sosiale en emosionele welstand en baie van die gesinne waarmee ek werk, het voorskoolse kinders. Verskeie faktore moet in ag geneem word om sosiale en emosionele welstand te bevorder, waarvan die kleuterskool een is. In die laaste paar jaar veral het baie kleuterskole geleidelik verengels en word ons kleuters dikwels aan Engelse onderrig, hetsy dubbelmedium- of tweedetaalonderrig blootgestel. Die vraag wat ek gevra het, was of die taal-van-onderrig voorskoolse kinders se sosiale en emosionele ontwikkeling beïnvloed, en indien wel, of dit ’n faktor is wat ons in ag sal moet neem wanneer ’n kind byvoorbeeld sukkel om emosioneel te reguleer, uitreageer of sukkel om sosiaal aan te pas. My doel was verder dat indien die bevindinge daarop sou dui dat taal-van-onderrig ’n faktor is, ouers en onderwysers ingelig sou kon word, sodat moontlike uitvalle ondervang kan word en gesonde sosiale en emosionele ontwikkeling bevorder kan word.

Watter voordele hou moedertaalonderrig volgens jou bevindinge vir kleuters se sosiale en emosionele ontwikkeling in?

Dit is belangrik om te noem dat eksterne faktore soos die gesinsamestelling, omgewingsveranderinge, trauma en die kleuterskool wat die kind bywoon in ag geneem moet word. Dit blyk wel dat kleuters wat moedertaalonderrig ontvang tot ’n groter mate sosiale en emosionele geborgenheid by die skool kan ervaar en meer geduldig hulle beurt kan afwag. Hulle kan ook verhoogde empatie en begrip vir die portuurgroep toon, terwyl kinders wat nie-moedertaalonderrig ontvang, meer geneig is om in kleiner groepe te funksioneer of alleen te speel.

Kleuters wat moedertaalonderrig ontvang, kan verhoogde vaardighede in ouditiewe inligtingverwerking toon, meer onafhanklik funksioneer (aktiwiteite aanpak en voltooi), aan ’n wyer verskeidenheid van aktiwiteite deelneem en tot ’n groter mate inisiatief neem. Dit wil sê, hulle voel meer trots op die bemeestering van aktiwiteite en sal daarom meer geneig wees om self aktiwiteite aan te pak. Inisiatief kom voor by kinders wat dubbelmedium- of tweedetaalonderrig ontvang, maar dan meer dikwels wanneer hulle in klein groepe werk of individuele aandag ontvang.

Benewens moedertaalonderrig, watter ander faktore moet ouers in gedagte hou wanneer hulle op ’n gepaste kleuterskool vir hul kinders besluit?

Wanneer ouers ’n kleuterskool vir hulle kind kies, moet dit natuurlik prakties wees om die kind daagliks te kan op- en aflaai. Wanneer kinders se sosiale en emosionele welstand in ag geneem word, moet hulle kan inpas by die portuurgroep. Die omgewing moet vriendelik wees, met onderwysers en assistente wat goed opgelei is. Die skool moet verder bereid wees om hulp te verleen indien nodig, soos om alternatiewe hulpbronne te implementeer vir kinders wat terapeutiese intervensie benodig, of geraak is deur byvoorbeeld omgewingsveranderinge of trauma. Die skool se waardes moet ook ooreenstem met die gesinswaardes.

Algemene veiligheid is belangrik. Ouers moet ook gemaklik wees met die kommunikasiebeleid wat gevolg word tussen hulleself en die skool. Basiese netheid en higiëne moet sigbaar wees en dissipline moet gepas wees. Die kurrikulum moet omvattend wees en net soos die hulpbronne (byvoorbeeld storieboeke, muurkaarte en liedjies) en speelapparaat, moet dit gepas wees vir die kind se ouderdom. Daar behoort genoegsame spasie en tyd vir vryspel te wees, met toesig deur die personeel. Indien etes voorsien word, moet die spyskaart gebalanseerd wees.

Vra gerus ook uit oor die skool se badkamerbeleid. Vertrou jou instink. Kies ’n skool waar jy gemaklik voel om jou kind af te laai.

Gaan jou navorsing gepubliseer word, of hoe gaan ouers meer daaroor te wete kan kom?

Die boek, Sosiale en emosionele ontwikkeling binne meertalige kleuterskoolomgewings, word later vanjaar deur Fontein Uitgewers beskikbaar gestel. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het fondse beskikbaar gestel om hierdie publikasie moontlik te maak. Die inhoud van die boek bevat onder meer ’n verduideliking van die proses van die aanleer van ’n eerste en tweede taal en taal-van-onderrig. Kleuters se ervaring van sosiale en emosionele geborgenheid, onafhanklikheid en inisiatief, portuurgroepverhoudings en ouditiewe inligtingverwerking word bespreek aan die hand van taal-van-onderrig, met toepaslike riglyne vir ouers, onderwysers en terapeute. Alhoewel daar gefokus word op kleuters wat dubbelmedium- of tweedetaalonderrig ontvang, is die inhoud ook voordelig vir ouers en onderwysers van kleuters wat moedertaalonderrig ontvang, omdat die boek breedweg fokus op gesonde sosiale en emosionele ontwikkeling binne die leeromgewing. Die volledige studie is hier beskikbaar.

Jy het jou studie in Afrikaans gedoen – watter voordele het dit vir jou ingehou?

Dit was vir my ’n plesier om met die deelnemers aan die studie, wat almal Afrikaanssprekend is, in Afrikaans te kon kommunikeer deur middel van e-posse, briewe en vraelyste. Ek kon die deelnemers se reaksies, soos dit tydens die observasies voorgekom het, in Afrikaans weergee in my studie. Die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns het ruim finansieel bygedra tot die studie, soos hulle doen vir meestersgraad- en doktorale studies wat in Afrikaans onderneem word.

Dink jy dat jy buitelandse belangstelling inboet omdat die studie in Afrikaans is?

Nee, want alhoewel ek my tesis in Afrikaans geskryf het, kon ek my bevindinge deel by ’n internasionale simposium en is sekere van die publikasies wat daaruit voorkom in Engels. Ek en prof. Irma Eloff het byvoorbeeld ’n hoofstuk met die titel “Authenticity and the psychology of language and learning during early childhood education” gepubliseer in die boek Authenticity across languages and cultures: Themes of identity in foreign language teaching and learning. Dit word deur Multilingual Matters in die Verenigde Koninkryk uitgegee en is aanlyn beskikbaar.

Wat is jou raad aan studente wat moet besluit oor die taal waarin hulle gaan studeer?

Vind uit wat die taalbeleid van die universiteit waar jy gaan studeer is en bespreek die taal waarin jy wil studeer met jou studieleier. Jou onderwerp kan ook ’n rol speel in jou besluit, veral as jou tema taalgerig is, of jou deelnemers ’n spesifieke taal magtig is. Kyk gerus ook uit vir beurse in jou studierigting en die beurse se taalvereistes.

Wat is nou volgende vir jou – is daar onderwerpe of studie wat uit hierdie navorsing voortspruit wat jy nou gaan aanpak?

Buiten dat ek die kennis en teorie van die studie in my praktyk toepas, was ek tot onlangs betrokke by vinjetnavorsing by die Universiteit van Pretoria. Dit is ’n navorsingsmetode wat onlangs eers in Suid-Afrika bekend gestel is. Ek werk ook tans aan ’n projek oor spelgebaseerde leer.

Lees hier meer oor vinjetnavorsing waarby ek betrokke was.

Soortgelyke plasings