|

AfriForum se Weskus-tak vier blomme met staproete

Namakwaland se blommeprag is ’n belewenis en vanjaar se blomme word uit verskeie oorde beskryf as asemrowend. AfriForum se Weskus-tak het verlede jaar in samewerking met lede van die Longacres Huiseienaarsvereniging in Langebaan reeds ’n inisiatief begin om borde by veldblomme op die landgoed op te sit met die naam en agtergrond van die veldblomme. Dit vorm deel van ’n staproete van ongeveer 2 km en die publiek word uitgenooi om Sondag 20 Augustus die roete self te kom stap en geniet wanneer dit amptelik ingewy word.

Daar is ’n groot verskeidenheid blomme wat gesien kan word. Elkeen het ’n foto langsaan met inligting oor die blom. Sommige van hierdie blomme is uiters seldsaam.

“Ons beplan om nog inheemse boomsoorte langs die roete te plant, en individue en ondernemings is welkom om ons te help plant. Dié bome word voorsien deur kwekerye in Wolseley en Grabouw wat dit ten doel het om teen 2025 tien miljoen bome te plant,” sê Sidney Monk, voorsitter van die Weskus-tak.

Die staproete begin by Loopstraat 36, Longacres. Die roete is nie te uitdagend nie en om dit ten volle te geniet sal so uur of twee neem. Die geleentheid begin Sondag om 11:30 wanneer Charmaine Loubser, onderburgemeester van die Saldanhabaai Plaaslike Munisipaliteit, ’n kort boodskap sal lewer. Toegang is gratis. Trek gemaklike skoene aan en bring gerus jou eie verversings saam. Daar is ook oorgenoeg gratis, veilige parkering beskikbaar. Troeteldiere word ongelukkig nie toegelaat nie. Voornemende besoekers hoef nie vir Sondag se geleentheid te bespreek nie, maar besoekers wat op ’n later stadium graag die roete wil stap sal vooraf reëlings moet tref.

“Die staproete is die ideale manier om die blommeprag in ’n kort tydjie te geniet. Die publiek word hartlik uitgenooi om by ons aan te sluit vir ’n heerlike dag,” sê Gerhard Brune, ondervoorsitter van die Weskus-tak.

Kontak gerus vir Monk by 082 802 2349 vir meer inligting.

Soortgelyke plasings